Van Gugulethu tot NBA

Deur Thathe Msimango

Vincent Ntunja glo sy aanstelling as hulpafrigter van die Minnesota Timberwolves in die Amerikaanse NBA Somerliga gaan die deure vir ander afrigters en selfs spelers uit Suid-Afrika oopmaak.

Die liga, met 32 spanne, vind van 7 tot 17 Julie plaas, meestal in Las Vegas, waar die aksie begin.

As voormalige speler en die afrigter wat Cape Town Tigers tot in die kwarteindronde van die NBA Afrikaliga gelei het, wil Ntunja die kans benut om basketbal in Suid-Afrika te bevorder.

“Dit voel nog steeds onwaar. Dit is een van die hoogtepunte van my loopbaan,” sê Ntunja, wat van Gugulethu af kom. 

Hy glo sy aanstelling weerspieël die vordering wat die sportsoort die afgelope tyd in Suid-Afrika maak.

Dit is steeds ’n amateursport hier, wat die Tigers se vertoning in die Afrikaliga nog merkwaardiger maak.

Ntunja het tydens sy speeljare die aanbod van ’n studiebeurs uit Amerika van die hand gewys omdat sy ma siek was.

Hy hoop sy prestasie dien as aanmoediging vir ander Suid-Afrikaanse om hoër te mik.

“My aanstelling is nie vir my nie, maar vir die hele land. Daar is baie mense wat werk om basketbal hier te laat slaag.”

Hy vertrek Vrydag na die VSA.

In die foto hierbo: Vincent Ntunja 

Fotobron: Verskaf