Engeland ‘Bazball’ Aussies moeg

Engeland se krieketspan het hulleself Donderdag uit ’n diep gat ge- “Bazball” – ’n vreeslose aanslag op die boulwerk – en na 188/1 gezoem, in antwoord op Australië se 416 almal uit.

M]aar toe raak hulle té voortvarend, en verloor onnodig drie vinnige paaltjies teen kort balle wat hulle met rus kon laat.

Veral Ben Duckett (98) sal homself kan skop vir ’n onoordeelkundige haakhou teen Josh Hazelwood, wat hom van ’n honderdtal beroof het. ’n Bo-randjie het reguit tot in Davis Warner se veilige hande geseil.

Maar teen uitskeityd het Harry Brooke (45*) en Ben Stokes (17*) die skade herstel, en op 278/4 is die tuisspan dalk ’n kortkop voor – veral as Nathan Lyon, die Aussies se brillante wegbreekbouler, nie weer boul nie.

Sy kanse lyk skraal nadat hy die veld moes verlaat met ’n lelike kuitbesering.

Die dolle vaart waarteen Engeland gekolf het, beteken hulle het nog 20 boulbeurte oor teen die ou bal, wat op Lord’s maklik 100 of wat ekstra lopies kan oplewer voordat die Aussie-snelaanval tot hulle reg kom.

Daardie baanblad het almal geflous. Met heelwat gras op, het dit na ’n boulersparadys gelyk, maar die verwagte beweging van die naat af het Donderdag net in die eerste ses boulbeurte of wat gegeld.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Ben Duckett 

Fotobron: Twitter