Fan gooi ma se as voor Pink se voete

Die superster Pink is al gewoond aan mense wat geskenke op die verhoog gooi, maar dié een het haar stomgeslaan: ’n fan se ma se as in ’n plastieksak.

Pink, 43, wat in die middel van ’n sielvolle uitvoering van haar treffer “Just Like A Pill” by BST Hyde Park musiekfees in Londen was, het gebuk en die sakkie opgetel.

Wat die skare verstom het, was die feit dat dit gelyk het asof Pink geweet het wat is in die sakkie. “Is dit jou ma?” het sy gevra. Toe die gooier dit bevestig, het die sanger gesê: “Ek weet nie hoe om hieroor te voel nie.”

Toe sit die sakkie neer en gaan aan met die vertoning.

Haar bestuurspan het nie kommentaar gelewer op die vraag of hulle vooraf gewaarsku is dat so iets sou gebeur nie.

Pink se optrede maak deel uit van haar Summer Carnival-toer en die British Summer Time Festival. Oudergewoonte was die vertoning ’n mengsel van musiek en asembenewende akrobatiek.

En nee, die sakkie as gaan nie staanplek op haar kaggelrak kry nie.

By die volgende vertoning het ’n fan ’n kaaswiel op die verhoog gegooi, wat Pink net so stomgeslaan het. Dié sou mens darem kon raspe en op ’n toebroodjie sit saam met ’n skyfie tamatie of so.

Ondanks hierdie ongewenste aandag, het Pink haar ondersteuner op Twitter bedank en gesê dis ’n “vreugde” om voor hulle op te tree.

Niemand kan sê of die fan se ma die vertoning geniet het of nie.

In die foto hierbo: Pink 

Fotobron: Twitter