Anethemba is ‘n tiener wat nie doekies omdraai nie

Deur Buziwe Nocuze

‘n Graad 9-leerder by Hoërskool Wittebom, Anethemba Mangcotywa, het besluit om ander kinders te help om maandeliks sanitêre doekies te bekom.

Die 15-jarige Mangcotywa het die Refilwe-stigting geloods om te help met probleme wat sommige kinders ondervind om toegang tot sanitêre produkte te verkry.

“Dit het my onstel om te sien hoe ander kinders sukkel, veral dié wat nie doekies kon bekostig nie. Hulle het hulp nodig gehad, so ek het 10 pakkies met my spaargeld gekoop terwyl ek gewag het dat mense bydra tot hierdie saak,” het Mangcontywa vol vuur vertel.

Mangcotywa het die noodsaak van samewerking beklemtoon. “As ons kan saamwerk, kan ons meer bereik; niemand hoef anders te lyk as gevolg van hul agtergrond nie. Ek sal verseker dat hulle alle moontlike bystand ontvang,” het sy gesê.

Sy het drie ander vasberade tieners ingesleep om die sukses van haar pogings te verseker.

Met behulp van die Refilwe Foundation Facebook-blad doen hulle ‘n beroep op die publiek vir skenkings, insluitend skooldrag, om leerders in hul skool te help.

“Ons gee voorkeur aan kinders van ons plaaslike gemeenskap, want dit sal nie sin maak om hulle agter te laat terwyl hulp elders verleen word nie. Onthou, mens vee altyd eers skoon voor jou eie deur,” het Mangcotywa bygevoeg.

Een van die stigtingslede, die 15-jarige Imakhe Gqokoma, het verduidelik hoekom sy by Mangcotywa se saak betrokke geraak het. Sy het gesê sy wil positiewe verandering teweegbring en die bietjie wat sy het met behoeftiges deel.

“Ek weet sy is jonk en kon ander aktiwiteite gekies het, maar om ‘n stigting te begin wys sy’s ‘n ware leier, ongeag haar ouderdom. Ek het by haar aangesluit omdat ek dieselfde ideale het – dat ons almal op gelyke grond geluk moet vind,” het Gqokoma gesê.

Die Refilwe-stigting beoog om skenkings van klere, kos en ander noodsaaklike items in te samel.

Die merkwaardige pogings van hierdie jong meisies gaan nie ongesiens verby nie. Gemeenskapslede soos die 40-jarige Zusakhe Myeko is geweldig trots op hul werk.

“Dit is presies wat ons bedoel wanneer ons praat oor toekomstige leiers wat ‘n verskil maak. Hulle kon kies om betrokke te raak by aktiwiteite wat tipies is van hul ouderdomsgroep, maar in plaas daarvan het hulle besluit om tot aksie oor te gaan en die lewens van ander positief te beïnvloed.” sê Myeko.

Geïnspireer deur hul toewyding het Lusanda Mthandeki, ‘n werklose 28-jarige, beloof om van haar persoonlike spaargeld by te dra.

“Al werk ek nie, sal ek van die R350 in my sak gebruik om ‘n pakkie doekies te koop. Ek verstaan ​​hoe erg dit is om nie toegang tot sanitêre produkte te hê tydens menstruasie nie, en hierdie meisies verdien alle moontlike ondersteuning,” sê Mthandeki.

Op die foto hierbo: Anethemba Mangcotywa, links, en Imakhe Gqokoma – medestigters van Refilwe

Fotobron: Verskaf