Ontmoet Christian Roberto López Rodríguez, die Spaanse sensasie wat pas die Guinness Wêreldrekord vir die vinnigste 100m in hoëhakskoene opgestel het.
Rodríguez het daardie 7cm stillettos aangeglip en die afstand op ’n amper ondenkbare 12.82 sekondes afgelê. Dis net 3.24 sekondes stadiger as Usain Bolt se wêreldrekord in vervelige ou hardloopskoene.
In Spanje het hulle gereeld sulke wedlope, en Rodríguez blink altyd uit.Hy sê sy voorbereiding was “vermoeiend en gefokus”.
Dis nie al nie. Rodríguez is ’n reeksrekordbreker met 57 Guinness Wêreldrekords agter sy naam. Hy kan onder meer ’n fiets langer op sy ken balanseer as enigiemand anders.
Hy is ’n Tipe 1 diabeet, en wil aan ander lyers bewys dat dit hulle nie hoef terug te hou nie.
Hy nael ook geblinddoek, in klompe, sakke en selfs agteruit.
Saamgestel deur eie beriggewer
In die foto hierbo: Roberto López Rodríguez