Dis aan! Dames en here, maak gereed vir die miljardêr-hokgeveg van die eeu! Mark Zuckerberg en Elon Musk is lus vir ’n wedersydse ruk-en-plukkery.
Musk het dalk gegrap toe hy Zuckerberg op Twitter vir ’n geveg uitgedaag het. Maar Zuckerberg, welbekend vir sy vermiste humorsin, was doodernstig. Hy het ’n skermskoot van die uitdaging op Instagram geplaas, met die onderskrif: “Laat weet waar.”
’n Segspersoon vir Meta het bevestig dat die plasing eg is. Musk was nie op sy bek geval nie. “Vegas Octagon,” het hy laat weet, en sommer gewaarsku sy wenstrategie is klaar uitgewerk, en dis eenvoudig. Hy noem die Die Walrus, en dit bestaan daaruit om op sy teenstander te gaan lê en te weier om op te staan.
Op papier is dit moeilik om ’n wenner te kies. Musk is groter, en beweer hy was in sy jongdae ’n vreeslose straatbakleier, soos, um, alle sawwe rykmanskindertjies in Suid-Afrika.
Zuck is meer geloofwaardig. Hy het al ’n Jiu-Jitsu-titel gewen, en spog dat hy die uitmergelende “Murph Challenge” oefenprogram baasgeraak het.
Musk se sakevernuf sit hom dalk ’n kortkop voor. Hy het waarskynlik genoeg kontantreserwes om die beoordelaars se guns te wen, as een van hulle nie die ander een tot oorgawe kan dwing nie.
Saamgestel deur eie beriggewer
In die foto hierbo: Elon Musk en Mark Zuckerberg