Binder tot die redding!

Deur Lucky Maree

SPORTKEUR: As jy in sak en as is omdat F1-jaers dié naweek uitspan, staan op, stof jou af kyk hoe Suid-Afrika se MotoGP-megaster Brad Binder op ’n KTM die gevreesde Ducati-bende eiehandig aanpak.

Binder, die boytjie van Potchefstroom, op ’n Red Bull KTM, het laasweek derde gelê toe ’n ongeluk sy wedren beēindig het. Sy fiets het die woema en hy het die durf en die vaardigheid om die Ducati’s gas te gee.

Die Assen-renbaan in Holland, met ’n outydse uitleg vol stadige draaie en blitsige kurwes, pas hom goed. Hy staan ’n kans – mits sy flambojante jaagstyl nie sy bande verslind nie.

Oefenrondes begin Vrydag, met die snelren Saterdag en die hoofwedren Sondag om 2nm.

Al die aksie is regstreeks op DStv kanaal 216 te sien.

➤ Die Pumas se pad na die Curriebeker-eindstryd is ietwat van ’n wonderwerk, vol kinkels en verrassings vir Jimmy Stonehouse se Nelspruit-brigade. 

Aan die ander kant was dit heel te wagte dat die outoppie Ruan Pienaar en die Cheetahs die eindstryd sou haal. Die toernooi het min onvergeetlike aksie opglewer, maar die twee spanne verdien die voorreg om hier te wees.

Die Cheetahs het ’n wenresep vervolmaak, terwyl die Pumas teen ’n dolle vaart speel wat verdedigers deeglik beproef. Vir ’n slag is daar nie veel sprake van ’n tuisvoordeel nie. Die harde Bloemfonteinse turf pas die Pumas se hardlooprugby.

Die wedstryd skop Saterdag om 4 nm af, en is regstreeks op DStv kanaal 201.

➤ Die UFC plant ’n uitklop-hoofgeveg in die veergewigafdeling wanneer Illia Topuria, onoorwonne in sy laaste 13 gevegte, Josh Emmet se regter-ystervuis Saterdag in Las Vegas aandurf.

Dis ’n dagtoernooi wat om 10vm daar begin – dus 7 nm in Suid-Afrika – en is regstreeks op DStv kanaal 210. 

In die foto hierbo: Brad Binder 

Fotobron: Twitter