Deur Buziwe Nocuze
Wes-Kaapse gemeenskappe het nog teruggesteier van laasweek se reënskade toe die stormweer terugkeer en die skade vererger.
Inwoners van informele nedersettings het van Maandagoggend af erg deurgeloop, en angstig probeer om hulle besittings te red terwyl die water hulle woonplekke oorstroom, en om hulp by die owerhede te versoek.
Miranda Madolo, ’n inwoner van Mfuleni, het gesê: “Ons is diep in die moeilikheid. Ons probeer opruim, maar die aanhoudende reën en wind maak dit moeilik.”
Sy het ’n video van die skade aan haar werkgewer gestuur om te wys waarom sy nie kan ingaan werk toe nie,
Thembile Mnyamana, ’n 40-jarige inwoner, moes sy hut verlaat as gevolg van die weer. “Ek kan nie die hoeveelheid water beskryf nie. Ek glo nie ek sal weer daar kan bly nie. Die skade is te groot.”
Hy het gehoop die reën sou end kry. Pleks daarvan het dit vererger.
Inwoners smeek die stad Kaapstad om in te gryp en mense in die rampgeteisterde gebiede by te staan.
In die Winnie Madikizela informele vestiging het ’n inwoner wakker geword en gesien haar hut is onder water. “Die vorige keer het my hut droog gebly, maar dié keer het ek van my bed af geklim in onverwags in ’n plas water getrap.” So gou soos sy water kon uitskep, so gou het nog water die hut binnegestroom.
Charlotte Powel, segspersoon vir Kaapstad se Ramp-risiko-afdeling, het gesê hulle is bewus van die omvang van die skade. “Die SA Weerdiens het vlak 5 windskade voorspel, wat verdere skade kan aanrig,” het sy gewaarsku.
In die foto hierbo: Swaar reën en sterk wind het Kaapstad weer getref, en gemeenskappe sukkel om die vloedskade te beperk
Fotobron: Verskaf