Deur Buziwe Nocuze
Jeugdag: Mthetheleli Wontyi het bekommerd geraak toe hy sien hoe jongmense hul tyd doelloos verwyl. Hy weet te veel vrye tyd kan mens ‘n gevaarlike pad laat loop, en lei tot betrokkenheid by ongewenste aktiwiteite.
“Ek het besluit om aerobics te gebruik om hulle besig te hou en uit die moeilikheid uit te hou. Ek het dié aktiwiteit gekies want jongmense hou mos van sport,” het Wontyi gesê.
“Baie slegte dinge gebeur in ons townships. Jong mense raak maklik die pad byster en raak betrokke by goed wat hul lewens kan verwoes.”
Wontyi gee vir jongmense aerobics-klasse van Maandag tot Vrydag, tussen 5nm en 7nm.
“Ek gee klas in Nyanga, maar enigiemand is welkom,” het hy gesê.
Wontyi glo as gemeenskappe wag vir die regering om op te tree, sal daar geen ontwikkeling wees nie, veral in die townships.
“Dit is belangrik dat almal hul rol speel om te verseker dat jongmense hulself nie in situasies bevind waarvan hulle nie kan ontsnap nie. Ons moet daar wees vir hulle,” het hy gesê.
Baie mense was verstom om te hoor dat hy sy dienste gratis aanbied. Wontyi is onseker oor die bedrag wat hy sou verdien as hy die kinders wat hy help vir fooie gevra het.
“Ek sal alles doen om jongmense te help, en ek glo hulle is die toekomstige leiers wat self goeie leiding nodig het, van mentors wat hulle nie langs die pad sal verlaat nie,” het hy gesê.
“Ek oordeel nie mense wat geld vra vir hul dienste nie, want dit is hul manier om kos op die tafel te sit, maar ek moedig ons samelewing aan om ‘n kultuur te bevorder van gee aan die gemeenskap sonder om iets terug te verwag.”
Asanda Macamba het gesê sedert haar kind by sy gimnasium aangesluit het, het sy aansienlike veranderinge bespeur.
“My kind se gedrag het verbeter. Ek hoef nie meer gedurig na sy skoolwerk te kyk nie. Dit is duidelik dat aerobics dissipline by hom kweek,” het Macamba gesê.
Liyabona Valelo is dankbaar teenoor Wontyi vir die positiewe invloed wat hy op hul lewens uitoefen.
“Sommige van ons maats is by dwelms betrokke en sommige is swanger. Ek glo as dit nie vir hom en sy gimnasium was nie, sou meeste van ons in die strik van dwelms getrap het of tot misdaad gepleeg het. Ons is dankbaar dat hy ons nie geld vra nie, want ons ouers is werkloos,” het Valelo gesê.
Likhanye Jafta se skoolwerk het verbeter sedert sy by die gimnasium aangesluit het.
“Ek het een van die topstudente in my klas geword. Die gimnasium hou my vars en skerper as wat ek ooit voorheen gevoel het. As ons meer mense soos Wontyi gehad het, kon talle lewens gered word.”
Op die foto hierbo: Mthetheleli Wontyi van Nyanga in Kaapstad het aerobics gebruik om kinders se lewens te red
Fotobron: Verskaf