Deur Zukile Majova
President Cyril Ramaphosa het in Pole aangeland om sy hoogsbelangrike vredesgesprekke tussen Oekraïne en Rusland af te skop.
Ramaphosa, een van die min staatshoofde aan wie Russiese president Vladimir Poetin gehoor gee, het ‘n daadwerklike kans om ‘n wapenstilstand tussen Rusland en die Oekraïne te onderhandel.
Die R408 miljoen se presidensiële straler, Inkwazi, het Donderdag vanaf Genève, Switserland, by Warskou se Chopin-lughawe geland waar Ramaphosa die World of Work-beraad toegespreek het.
Ander Afrika-staatshoofde saam met Ramaphosa op die vredesending sluit in Denis Sassou Nguesso van die Kongo, Egiptiese president Abdel Fattah al-Sisi, Senegalese president Macky Sall, Ugandese president Yoweri Museveni, Zambiese president Hakainde Hichilema en Azali Assoumani, president van die Comore en huidige voorsitter van die Afrika-unie.
Die presidente sal na verwagting ‘n sewe uur lange treinrit van Pole na Kiëf aanpak vir ‘n afspraak met Oekraïnse president Volodymyr Zelensky op Vrydag, voordat hulle na St Petersburg vertrek om vir Poetin te ontmoet.
‘n Skietstilstand is van opperste belang vir Suid-Afrika, wat na verwagting in Augustus gasheer sal speel vir leiers van die Brics-lande.
As ondertekenaar van die Internasionale Strafhof is die Ramaphosa-regering onder druk om Poetin in hegtenis te neem indien hy die beraad sou bywoon.
Die IKH het ‘n lasbrief vir Poetin se arrestasie uitgereik vir oorlogsmisdade, insluitend die onwettige deportasie van kinders van Oekraïne na Rusland.
‘n Positiewe uitkoms van hierdie vredesending sal vrese besweer dat Suid-Afrika hom agter Rusland skaar ten spyte daarvan dat hy na bewering neutraal in die konflik is.
Die land is ook deur die VSA daarvan beskuldig dat hy wapens aan Rusland verkoop het en betrokke is by militêre oefeninge saam met Rusland, wat die aggressor in hierdie oorlog is.
Ramaphosa het gesê om neutraal in konflik te staan, los Suid-Afrika nie sonder ‘n mening oor die kwessie nie.
“Dit beteken nie dat ons nié ‘n standpunt oor die Rusland-Oekraïnse konflik het nie.
“In ooreenstemming met ons standpunt oor konflikte in ander dele van die wêreld, is Suid-Afrika se siening dat die internasionale gemeenskap moet saamwerk om dringend ‘n staking van vyandelikhede te bewerkstellig en om verdere lewensverlies en verplasing van burgerlikes in die Oekraïne te voorkom,” het hy gesê.