Deur Lucky Maree
’n Skokkende teken wat implikasies vir die Wêreldbeker kan inhou, is die rooikaart wat Elrigh Louw kort voor rustyd in die wedstryd tussen die Blou Bulle en die Cheetahs op Loftus ontvang het.
Die skeidsregter, AJ Jacobs, het Louw, ’n sleutelspeler vir die Bulle, ’n geelkaart gewys, maar die TV-skeidsregter, Aimee Barrett-Theron, het haar ysterhand op die wedstryd afgedwing.
“Kyk weer,” het sy aangedring, en Jacobs oorreed dit moet ’n rooikaart wees, wat die gang van die wedstryd geswaai het. Die Bulle het verloor, maar die twee punte wat hulle verdien het, het darem hulle plek in die halfeindronde verseker.
Mens kan net hoop kaarte bepaal nie watter span die Wêreldbeker wen nie – veral nie waar die Springbokke betrokke is nie.
➤ Die Westelike Provinsie het ’n meesterlike vertoning teen die Haaie gelewer, en ses skitterdrieë teen een gedruk, maar dit was ’n geval van te min, te laat. Hulle seisoen is verby.
Dit het onderstreep hoe moeilik dit is om aan drie kompetisies tegelyk deel te neem. Nadat die fokus van die Verenigde Rugbykampioenskap na die Curriebeker verskuif het, was hulle onstuitbaar. Die Haaie kon nie meeding nie.
➤ Die Pumas se oorwinning teen Griekwas was allermins oortuigend, maar daar was darem ’n bietjie van die ou woema te bespeur.
➤ Die Leeus het vyf drieë in hulle oorwinning teen die Griffons in Welkom aangeteken. Goed en wel. Maar die drie drieë wat hulle afgestaan het, het hulle groot swakheid uitgelig. Verdediging is helaas net so belangrik soos aanval. Hulle sal dit voor volgende jaar moet regstel.
Griffons (3 drieë) 22-39 (5 drieë) Leeus
Griekwas (2 drieë) 17-27 (3 drieë) Pumas
Blou Bulle (4 drieë) 27-31 (4 drieë) Cheetahs
Westelike Provinsie (6 drieë) 44-5 (1 drie) Sharks