Pampoentert en donuts laat liefde gedy

As sake tussen die lakens nie heeltemal klopdisselboom vir jou verloop nie, beteken dit waarskynlik jy neem die verkeerde smulhappie bed toe.

Onlangse navorsing deur die wetenskaplikes Dr Alan R Hirsch en Jason J Gruss bevestig die ou waarheid dat sommige reuke mens tot raserny van begeerte kan dryf. Asof iemand gewonder het.

Goeie ou donuts was ’n verrassende uitblinker onder die 31 dapper vrywilligers, almal mans, wat aan ditjies en datjies gesnuif en die resultate aangeteken het, met ’n skaflike 31,5% suksespersentasie. Daar was, moes die navorsers byvoeg, ’n druppeltjie drop by die aromakonkoksie betrokke.

Pampoentert het netjies vertoon sonder enige hulp, maar kombineer die reuk met dié van laventel, en jy’t ’n wenner, met ’n onoortreflike 40%!

Jy wonder dalk hoe dié dinge werk. Ons oerbrein verduidelik alles. Ons reuksintuig en seksuele prikkeling deel vloerspasie in ons grysstof. Hoekom, weet nugter.

Moenie voorbeelde uit die insekteryk vergeet nie. Bye, motte en ander insekte berus op feromone om maats te lok. Dit geld vir ons ook.

Hoe mens veronderstel is om hierdie inligting toe te pas, sê die navorsers nie. As jy dan aan pampoentert en donuts móét knibbel om te kan presteer, onthou net dat krummels in die bed nie noodwendig jou bedmaat se koerasie gaan aanvuur nie.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Sexy donuts