Deur Dylan Bettencourt
SPORTKEUR: Geen wedstryd in die 143-jarelange geskiedenis van Manchester City is belangriker as Saterdag se eindstryd van die Uefa Kampioeneliga teen Inter Milan nie.
➤ Sedert die mega-petrodollar oorname van Man City 15 jaar gelede het nog net een titel die klub ontduik: die Uefa Kampioeneliga.
Die span het die eindstryd in 2020 gehaal, maar teen Chelsea verloor.
City is Saterdag oorweldigende gunstelinge nadat in die voorafgaande twee weke die Engelse Premierliga en FA Cup beklink het.
Hulle het die druk van eindstrydsokker talle kere ervaar, en weet hoe om dit te verwerk. Hulle sal dit tot hulle voordeel gebruik.
Inter Milan, daarenteen, beleef ’n middelmatige seisoen. Dit sal ’n groot skok wees as hulle City se segetog stuit.
Die wedstryd in Istanbul skop om 9nm af, en is regstreeks op DStv kanaal 203.
➤ Die laaste naweek van die Curriebeker voor die uitspeelrondes gee twee spanne die kans om hulle by die Haaie en die Cheetahs in die halfeindronde aan te sluit.
Die grote is Vrydag s’n tussen die Pumas en Griekwas op Nelspruit, wat albei nog die laaste vier kan haal. Tuisvoordeel tel in die Pumas se guns, maar hulle het vorm verloor en sal hulle ou woema moet terugkry.
In Vrydag se ander wedstryd, in Welkom tussen die Griffons en die Leeus, wat albei uit die prentjie is, is daar net ’n bietjie trots op die spel. Albei dié wedstryde skop om 3nm af.
Die Blou Bulle sal kwaai gemotiveerd wees vir hulle stryd teen die Cheetahs, aangesien ’n voltal hulle van ’n plek in die halfeind kan verseker. Die Cheetahs wil wenmomentum opbou vir die pylvak beker toe. Die afskop is om 7.05nm.
Westelike Provinsie pak hulle aartsvyande, die Haaie, Saterdag om 7.05nm. Die tuisskare sal hoop op ’n wenvertoning, veral na die Stormers se teleurstellende einde in die Verenigde Rugbykampioenskap.
DStv wys al die wedstryde op hulle onderskeie kanale.
In die foto hierbo: Manchester City
Fotobron: Manchester City