Deur Anita Dangazele
Die eksvrou van ‘n geliefde Gqeberha-dokter, Bantu Noqekwa, wat vroeg in Mei in sy werkplek doodgeskiet is, is in hegtenis geneem onder verdenking dat sy die grusame moord beplan het.
Ethel Mphahlwa-Noqekwa, 46, het Donderdag in New Brighton Landdroshof in Gqeberha verskyn.
Mpahlwa-Noqekwa is glo die meesterbrein van die misdaad wat die gerespekteerde dokter se lewe geëis het.
Op die aand van 3 Mei het vier mans by sy kantoor in die township Zwide in Gqeberha ingebars. Die koelbloedige moordenaars het na bewering die oorlede dokter op die ondersoektafel vasgemaak voordat hulle hom verskeie kere in die kop geskiet het.
Sy personeel het glo gevlug toe die skietery plaasgevind het, en bure wat die geweerskote gehoor het, het die polisie oor die voorval ingelig.
Noqekwa was baie gewild onder sy pasiënte en die gemeenskap.
Gemeenskapslede en sommige van die oorlede dokter se pasiënte wat Donderdag die borgtogverhoor bygewoon het, het gesê hulle het van die begin af vermoed dit was ‘n teikenmoord.
“Die manier waarop hy vermoor is, het nogal persoonlik gevoel,” het een inwoner gesê. “Ek het altyd vermoed hy was geteiken. Om te dink dit is beplan deur iemand wat hom eens liefgehad het, is skokkend.
“Mense hier rond was mal oor hom en ons was geskok om te hoor dat hy op so ‘n gewelddadige manier gesterf het.”
Nog ‘n inwoner het beweer: “Dit was vir my duidelik dat hy geteiken is omdat min items, buiten die kameras, van die toneel af verdwyn het.”
Die vier verdagtes het na bewering gevlug nadat hulle die kringtelevisiekameras verwyder het.
Noqekwa se geliefdes het verligting uitgespreek dat arrestasies gemaak is, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.
Mphahlwa-Noqekwa is in Kaapstad in hegtenis geneem en Dinsdag na Gqeberha oorgeplaas.
Drie ander mense is ook in hegtenis geneem vir sameswering om moord te pleeg en op moordaanklagte. Die polisie sê nog arrestasies is op hande.
Die saak is tot 15 Junie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
Op die foto hierbo: Wyle dr Bantu Noqekwa
Fotobron: Verskaf