Curriebeker g’n tweedeklas nie

Deur Dylan Bettencourt

SPORTKEUR: Die Curriebeker klink dalk bietjie vaal teen die Verenigde Rugbykampioenskap (en sokker se FA Cup) maar moenie glo nie. ’n Hele paar spanne kan nog wen, en binnekort word daar ’n Springbokspan gekies.

Die wedstryd wat dalk die interessantste rugby kan oplewer, is dié tussen die Haaie en die Leeus in Durban. Die tuisspan speel al hoe beter en die Leeus beur voort, op die veld en teen hulle onbeholpe bestuurspan. Die afskop is Saterdag 7.05nm.

Griekwas sit naby die onderkant van die puntelys, maar hulle het ’n trotse rekord teen die Westelike Provinsie wat hulle Saterdag in Kimberley van 3nm af sal wil voortsit.

Wes-Kaapse rugbygeesdriftiges lek nog hulle wonde ná die Stormers se nederlaag teen Munster in die VRK, en sal ’n troosoorwinning waardeer. Hou ’n ogie oop vir Griekwas se glibberige losskakel, Tinus de Beer,

Die Pumas en die Vrystaat se wedstryd in Nelspruit (Saterdag 3nm) kan beslis wie in die bekerwedloop oorbly. Daar is natuurlik ook trots op die spel.

Die Vrystaatse veteraan Ruan Pienaar, ’n generaal of hy nou die nommer nege of nommer tien-trui oor sy kop trek, sal wil wys die ou hond ken nog ’n hele paar trieks. Die Pumas se heelagter, Devon Williams, se teenaanvalle is een van die tuisspan se troefkaarte.

Vandag (Vrydag) Behoort die Blou Bulle vyf punte teen die sukkelende Griffons in te oes. Die afskop is om 5.05nm.

Al die wedstryde is op DStv kanaal 201.

➤ Aan die sokkerfront kan Manchester City Saterdag die tweede van ’n moontlike drie trofeë in die eindstryd van die FA Cup verower.

Hulle buurspan, Manchester United, staan in hulle pad.

City het die Premierliga beklink met ’n hele paar wedstryde oor. Hulle kan selfs ’n driekuns behaal wanneer hulle oor ’n bietjie meer as ’n week teen Inter Milan in die eindstryd om die Uefa Kampioeneliga speel.

Die laaste keer dat ’n Engelse span al drie kon wen, in 1999/2000, was dit United.

90 000 ondersteuners gaan Saterdag na Wembley toe optrek vir die grootste dag op die Engelse sokkerkalender.

Die aksie is regstreeks van 4nm af op DStv kanaal 203 te sien. 

➤ Na die Monaco Grand Prix, wat verrassende drama opgelewer het, verskuif die F1-kampioenskap na Circuit de Barcelona-Catalunya vir die Spaanse Grand Prix. 

Dit is hier waar die voorloper, Max Verstappen, sy eerste wedren gewen het, en waar sy naaste teenstander, Fernando Alonso, sy laaste gewen het.

Na die uiters tegniese wedren in Monte Carlo sal jaers en geesdriftiges dié snelbaan met sy baie kanse om verby te steek verwelkom.

Die gebrul breek Sondag om 3nm uit, en is regstreeks op DStv kanaal 215.

In die foto hierbo: Die Manchester-tweestryd