Deur Zukile Majova
Die pad vir die Russiese President, Wladimir Poetin, na Suid-Afrika het dié week ’n lagie goue plaveisel bygekry toe die Minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, bevestig het dat daar diplomatieke kwytskelding verleen word aan gaste wat die BRICS-beraad bywoon.
Clayson Monyela, segspersoon vir Internasionale Betrekkinge, het gesê publikasie van dié kwytskelding in die staatskoerant is “roetine” wanneer die land ’n internasionale beraad aanbied.
“Hierdie is ’n standaard-kwytskelding wat ons en alle lande uitreik vir internasionale konferensies, ongeag die vlak van deelname. Dit geld vir die konferensie en nie vir spesifieke mense nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die kwytskelding stel nie die inhegtenisnemingsbevel ter syde wat deur die Internasionale Kriminele Hof uitgereik is nie.
Die IKH in Den Haag het ’n inhegtenisnemingsbevel teen Poetin uitgereik op aanklag dat die ontvoering van Oekraïense kinders onder sy toesig geskied het.
Die enigste vorige kere dat inhegtenisnemingsbevele teen dienende leiers uitgereik is, was teen Libië se president Muammar Ghaddafi en die Soedanese president Omar al-Bashir.
Vroeër in die week het die ANC se Sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gesê die party sou Poetin se besoek verwelkom, maar dat dit deur die IKH se bevel bemoeilik word.
Intussen het die DA ’n hofaansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om President Cyril Ramaphosa se regering te dwing om Poetin in hegtenis neem as hy in Suid-Afrika aankom.
“Die DA doen dit om ’n herhaling van die Al-Bashir sage in 2015 te voorkom, toe die Suid-Afrikaanse regering versuim het om hulle plig na te kom en hom in hegtenis geneem.
“Hierdie gebiedende hof-aksie verseker dat die regering sy plig nakom, soos in die Statuut van Rome deur die Internasionale Kriminele Hof uiteengesit,” het die DA-parlementslid Glynnis Breytenbach gesê.
In die foto hierbo: Wladimir Poetin
Fotobron: Twitter