Koning van Everest betrag die lewe as ‘n sjerpa

Deur Razeen Gutta

Die Nepalese Sherpa, Kami Rita, wat die berg Everest vir ‘n rekord 28ste keer bestyg het, het neergesien op die geleenthede wat in sy land gebied word.

Die 53-jarige bergklimmer is hartlik tuis verwelkom toe hy na Katmandu teruggekeer het, maar hy was vinnig om die gebrek aan geleenthede in sy vaderland uit te wys.

“Hoekom sal mens hier bly? Daar is geen toekoms in Nepal nie. Ons het vooruitsigte nodig vir onsself, vir ons kinders,” het Kami Rita aan Reuters gesê.

Die Sherpas, wat ‘n etniese groep is wat in die Everest-streek woon, was nog altyd die eerste keuse wanneer dit kom by bergklim-ekspedisies.

Volgens Kami dwaal die jonger geslag egter van daardie werk af weg.

“Die nuwe generasie Sjerpas steur hulle min aan bergklim. Hulle wil oorsee gaan op soek na ‘n beter loopbaan. Oor 10 tot 15 jaar sal daar minder Sjerpas wees om klimmers te lei. Getalle is reeds laag,” het hy gesê.

Met baie Sherpa-gidse wat voortgaan om ander opsies in gebiede van die VSA te verken, glo Kami dat Nepal se regering meer vir hulle moet doen.

“Die regering doen min vir die welsyn van die Sjerpas. Dit moet verhoog word,” het hy gesê.

Ten spyte van die teleurstelling het Kami ook dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid wat hy gekry het om sy kinders die opvoeding te bied wat hy self nie kon bereik nie.

Sy seun studeer toerisme en sy dogter doen ‘n kursus in inligtingstelsels.

“Dit sou nie moontlik gewees het as ek in Thame gebly en besluit het om nie te klim nie,” sê Kami, wat die skool op die ouderdom van 12 verlaat het.

Op die foto hierbo: Kami Rita Sherpa

Fotobron: Seven Summit Treks