Wie is die jagter, wie is die prooi?

Deur Lucky Maree

SPORTKEUR: Die weer is goed, die oppervlak so goed as wat ’n mens kan hoop, en die Kaapstad-Stadion is van kant tot wal uitverkoop.

Die wedstryd van die jaar sover, die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) skop Saterdag om 6.30 af met die tuisspan die gunsteling om die besoekers, Munster, te klop.

Maar so eenvoudig is dit nie.

Dit is een van daardie wedstryde waar die jagter baie gou die prooi kan word. Albei spanne het al ’n groot porsie geluk aan hulle kant gehad, maar wanner hulle ’n kans kry, het albei dit aangegryp. 

Om een of ander rede was die Stormers vanjaar in die meeste van hulle VRK-wedstryde nie die gunsteling nie.  Moontlik omdat die ander Suid-Afrikaanse spanne, die Sharks, Lions en Bulls, so treurig was.

Maar die Stormers se pad na die eindstryd het gewys hulle is gewillig en daartoe in staat om spogrugby te speel wanneer dit werklik tel.

Die afrigter, John Dobson, nie heeltemal so vrolik en vriendelik as wat ons gewoond is nie, was meedoënloos in sy verwagtinge om die beste in sy individuele spelers en die span as eenheid na vore te bring.

Munster moes ook teen die verwagting in presteer, veral in die uitspeelrondes. Hulle het die gees ten toon gestel waarvoor Ierse sportlui en land bekend is. Graham Rowntree het sy span afgerig om op die presiese regte oomblik hulle beste spel te lewer. 

Die verdedigingsafrigter, Denis Leamy, het aan PlanetRugby gesê wegwedstryde het die span taaier gemaak.

“Dit is ’n groot uitdaging om na plekke soos Glasgow en Leinster toe te reis, en Suid-Afrika toe te kom, met alles wat dit behels,” het hy gesê.

As jy van plan was om Saterdag te trou, stel dit uit tot volgende naweek. Anders sal jou aandag nie by jou bruid wees nie, en jou gaste gaan in elk geval nie opgaag nie.

Volg die aksie is regstreeks op DStv kanaal 201 om 6.30 pm.

➤ Een van die opwindendste Indiese Premierliga-kriekettoernooie stuur of op ’n seismiese einde – veral as die Mumbai Indians die Gujarat Titans Vrydag klop, en ’n botsing met hulle aartsvyand, Chenai Super Kings, bewerkstellig.

Maar eers moet hulle die Titans, die verdedigende kampioene, uit die pad kry. Mumbai is op dreef en die Titans het hulle vorige wedstryd verloor, maar dis T20 en dis ’n uitspeelwedstryd, wat beteken net ’n dwaas sal groot geld op enigeen verwed.

Chenai, wat Dinsdag hulle plek in die eindstryd bespreek het, sal Sondag op hulle troefkaart reken: Die legendariese MS Dhoni, dalk in sy laaste wedstryd in die IPL.

Albei wedstryde begin om 4 nm, en albei is regstreeks op DStv kanaal 212 te sien.

➤ Dit is die laaste week van die Engelse Premierliga sokker, en die fokus is op die promosie-relegasie-wedstryde. 

Everton, Leeds United of Leicester City gaan uitval, maar wie gaan dit wees?

Die drama ontvou Sondagaand om 5.30nm op verskeie DStv kanale.

➤ Formule 1 verskuif na die Monaco-renbaan, nadat swaar reën en vloede laasweek die Italiaanse Grand Prix verhinder het.

Die kwalifiserende rondes is belangriker as gewoonlik, aangesien dit so moeilik is om op dié renbaan verby te steek. Volg die stryd Saterdag van 4nm af op DStv kanaal 215, en die wedren self Sondag om 3nm.

In die foto hierbo: Die Stormers juig

Fotobron: Stormers