Deur Doreen Mokgolo
Lawrence Xipu is ‘n pensionaris wat met behulp van Kwa-Thema Gemeenskapsonderrigsentrum bewys het dat dit nooit te laat is om ‘n droom te verwesenlik nie.
Die 63-jarige van Kwa-Thema in Ekurhuleni was een van duisende studente wat deur die Matriek Tweede Kans-program hul Senior Sertifikaat/Nasionale Senior Sertifikaat kon oorskryf en opgradeer.
Hy het 43 jaar gelede, tydens sy graad-10 jaar in 1980, die skoolbanke verlaat om werk te soek sodat hy sy gesin kon onderhou.
In ‘n onderhoud met Scrolla.Africa het Xipu gesê in 1993 het hy teruggegaan om sy matriek te voltooi, maar het toe Wiskunde gedruip.
“Ek was teleurgesteld dat ek nie genoeg moeite met my studies gedoen het nie, maar ek was destyds verlig dat ek uiteindelik ‘n matrieksertifikaat het en dus beter werk kon kry,” het hy gesê.
“Ek het ook nie die tyd en hulpbronne gehad om die vraestel oor te skryf nie, maar in my agterkop het dit gekrap dat my matrieksertifikaat nog onvolledig was. Noudat ek die tyd het, het ek besluit om myself te druk om hierdie langtermyndroom te verwesenlik.”
Xipu het bygevoeg dat hy hard gewerk het met behulp van sy klasmaats om vir die vraestel voor te berei.
“Ons het ‘n WhatsApp-studiegroep gehad en het verskillende maniere gedeel om van die uitdagende probleme aan te pak.
“Ek hoop om ‘n onderskeiding te kry, maar as dit nie gebeur nie, sal ek teruggaan en inskryf vir die volgende sessie in Augustus om die vraestel te herskryf,” het hy gesê.
Sodra hy klaar is met sy studies, beplan die pensioenaris om ekstra lesse aan te bied by die leersentrum vir volwassenes.
“Ek het van die uitdagings by die skool geïdentifiseer. Die klasse is oorvol wat die onderwysers dwing om groot hoeveelhede leerders te hanteer,” het hy gesê.
“Ek sal my ekstra tyd gebruik om by te dra tot die verbetering van die gemeenskap.”
Op die foto hierbo: Lawrence Xipu
Fotobron: Doreen Mokgolo