Thailand het ‘n nuwe monument wat onverdeelde aandag geniet.
‘n Opspraakwekkende beeldhouwerk van vier voet hoog, geskep deur die Boeddhistiese non Naowaratkotchaporn Simethawong, ook bekend as “Moeder Brahmin”, is deesdae die spilpunt van aanbidding in die Nakhon Ratchasima-provinsie.
Jy mag moontlik uit die veld geslaan wees wanneer jy die heiligdom binnegaan en jou vasloop in ‘n massiewe, biologies korrekte, goue vroulike geslagsdeel.
Versier met gegraveerde gebede en omring deur agt kleiner vaginas, veroorsaak hierdie skepping ‘n opskudding in die gemeenskap.
En dis nie net ‘n kwessie van die kunswerk besigtig nie. Plaaslike inwoners stroom na hierdie goue genotgrot en bid vurig vir geluk, vrugbaarheid, stralende skoonheid en natuurlik ‘n skeut romanse. Dit is ‘n plek, glo hulle, waar drome bewaarheid word.
Dit is ook nie die eerste keer dat vroulike skaamdele die fokuspunt van aanbidding is nie.
Middeleeuse Europa het sy Sheela Na Gigs gehad – antieke uitsnywerk van ongeklede vroue, wat kerke en kastele versier het. Tog stoot hierdie Thaise model realisme tot op ‘n heel nuwe vlak.
Gelowiges het dit selfs nog ‘n stappie verder gevat deur ‘n bypassende goue penisstandbeeld op te rig, om sodoende ‘n afgeronde geestelike ervaring te verseker. Sodanig was die sensasie wat hierdie uitdagende monumente veroorsaak het dat plaaslike amptenare eenvoudig daarvan moes kennis neem.
Onlangs het raadshoof Kanatchon Sijaroen, vergesel van sy personeellede en ‘n paar polisiemanne, ‘n besoek aan die heiligdom gebring. Hulle missie? Om hierdie manjifieke huldeblyk aan vroulike mag van naderby te bekyk.
Gelukkig, nadat seker gemaak is dat dinge aan morele standaarde voldoen, is die groen lig gegee. Daar was egter een probleempie – die standbeelde moes weggeskuif word van ‘n groot Boeddhistiese figuur om enige sweem van disrespek te voorkom.
En wat kos dit om die glorie van hierdie goue godin gade te slaan? Slegs 500 baht, gelykstaande aan sowat R270, koop vir jou ‘n kaartjie na ‘n ervaring uit ‘n heel ander wêreld.
Toegewydes kom van heinde en ver om deel te neem aan spesiale seremonies en gebede, op soek na troos en lafenis, veral dié vroue wat die hartverskeurende ervaring van aborsie oorleef het.
Moeder Brahmin, die meesterskepper van hierdie geestelike skouspel, verdedig haar kunswerk met drif.
“Ons moet die geslagsdele respekteer, want dit verteenwoordig die oorsprong van lewe en alles wat die wêreld laat gedy,” verkondig sy.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Die goue vagina beeldhouwerk
Fotobron: Twitter