Bongolwethu se gratis lesse bemagtig Mfuleni township

Deur Buziwe Nocuze

Mens weet nooit waar en wanneer ’n held gaan opduik nie.

Bongolwethu Nganya is een van hulle. Hy bied gratis C10 lesse vir leerling-rybewyse aan inwoners van Mfuleni township in Kaapstad.

“Ek doen dit gratis want ek glo ’n rybewys is ’n belangrike stap wat deure oopmaak vir werksoekers,” het die 27-jarige Nganya gesê.

“Ek lei hulle nie net op nie, ek moedig hulle ook aan om hulle tyd konstruktief te gebruik.”

Sedert Januarie verlede jaar het hy 400 mense bemagtig met noodsaaklike vaardighede. Hy het gevoel hy moet iets doen toe hy bewus word van al die jongmense wat dwelms gebruik.

“Ek doen dit gratis want ek weet baie mense kan dit nie bekostig nie,” het hy gesê.

Al die ongelukke wat mense met vervalste rybewyse maak het ook tot sy besluit bygedra.

Hy bied die klasse elke weekdag tussen 11vm en 5nm aan. Sy leerders vaar besonder goed met die toetse. Kerke en lede van die gemeenskap verskaf klaskamers en help met foto’s en afskrifte van die nodige studiemateriaal.

“Elkeen kry ’n eksemplaar van die K53-boekie en ’n app met foto’s van padtekens. Ek het nog borge hiervoor nodig.”

Zizipho Dyonase, wat laasjaar haar rybewys gekry het, was eers skepties oor die leerling-rybewysprogram.

“Daar is so baie slenters waarvoor mens versigtig moet wees, en ek kon nie glo iemand bied so iets gratis aan nie.”

In die fote hierbo: Bongolwethu Nganya gee gratis lesse aan inwoners van Mfuleni wat leerling-rybewyse moet kry

Fotobron: Verskaf