Die allerbeste

Tina Turner (1939-2023)

Sy is as Anna Mae Bullock gebore, ’n arm swart meisie uit die agterlike Nutbush in Tennessee, VSA.

Haar talent was dadelik onmiskenbaar, en in die sestigerjare het sy en Ike Turner, wat haar man sou word, saamgespan om luide, borrelende en wonderskone treffers soos River Deep, Mountain High te skep.

Nik Cohn het haar so in sy epiese boek oor rock & roll, Awopbopaloobop Alopbamboom, beskryf nadat hy haar in die 60s in ’n klub in Londen sien optree het:

“Sy is ’n groot vrou met lang swart hare en ’n snerpende, dierlike gesig en kosmiese agterstewe. Nie mooi nie, maar waansinnig sexy.

“Ike, haar man, het agter haar kitaar gespeel en soos ’n gemene, netjiese mannetjie met ’n bokbaard en siniese oë gelyk.

“Ek was reg voor die verhoog.

“Tina het begin tol en slaan en skree, smeltend, en skielik het sy soos ’n sneeustorting op my afgepyl, boude aan die voorpunt, en al daardie vlees, skuddend by my gesig.

“Ek het teruggedeins uit selfverdediging. Die hele voorste ry het. Tina het triomfantelik oor ons getroon.”

Tina en Ike het die een treffer na die ander ingeryg, maar die huwelik was stormagtig. Ike het haar jare lank sielkundig en ekonomies onderdruk, het sy in haar outobiografie geskryf.

Hulle is vroeg in 1978 uitmekaar, en sy is van al haar materiële bates gestroop.

In die tagtigerjare het sy die verhoog van voor af oorweldig, ’n rits treffers behaal, en die wêreld opnuut verower.

Sy het ons Woensdag verlaat na ’n lank siekte. Haar gesin het in ’n aankondiging geskryf: “Die wêreld verloor ’n musieklegende en rolmodel.”

Sy was dit en veel meer.