“Ek verjaar – plant vir my ‘n boom!”

Deur Nkhensani Mthombeni

Thabelo “Tbos” Makwarela het sy 33ste verjaardag gevier deur familie en vriende aan te moedig om te vergeet van tradisionele persente en kontantgeskenke.

In plaas daarvan het Makwarela, ‘n vurige omgewingsaktivis, versoek dat hulle saam met hom bome plant in ‘n poging om aardverwarming hok te slaan.

Makwarela se missie, om by te dra tot die ommekeer van klimaatsverandering se verwoesting van ons planeet, het hom gedryf om 33 bome op verskeie plekke regoor die land te plant.

Makwarela het op sy verjaardag, 17 Mei, sy boomplant-veldtog afgeskop by Vukuhambe Spesiale Skool in Oos-Londen, waar hy tyd saam met studente spandeer het en oor die belangrikheid en wonder van boomplant gesels het.

Sy plan was ‘n gevolg van die nasionale Tien Miljoen Bome-program wat in 2021 deur Cyril Ramaphosa voorgestel is. Die projek het ten doel om 10 miljoen bome in woongebiede te plant oor ‘n tydperk van vyf jaar.

“Ek wou ‘n voorbeeld stel en hopelik sodoende andere inspireer om hul deel te doen,” het Makwarela gesê. Hy het gefokus op vrugtebome, om erkenning te gee aan hul bydrae tot voedselsekerheid.

“Die bome is geplant in Marikana in Noordwes Provinsie, in Gauteng, en dele van Limpopo,” het Makwarela vertel.

“Ek beplan om die program na ander Afrika-lande toe uit te brei, en rig ‘n pleidooi vir groter betrokkenheid van beide die regering en besighede.”

Hy glo die regering kan meer doen om aardverwarming te bestry.

“Brandstof- en mynmaatskappye moet verantwoordelikheid vat deur hulle daartoe te verbind om meer bome te plant,” het hy gesê.

Hy het ook voorgestel dat ‘n wet ontwerp word wat van burgers sal vereis om bome te plant wanneer hulle ‘n motor koop of wanneer ‘n nuwe kind in die wêreld verwelkom word.

Op die foto hierbo: Thabelo ‘Tbos’ Makwarela

Fotobron: Verskaf