Vyf-jarige oorleef vriesende naweek in klaskamer toegesluit

Deur Anita Dangazele

Terwyl ’n reënerige kouefront laas naweek die Oos-Kaap laat bibber het, het ’n vyfjarige Graad R-leerling aan die Laerskool JA Ncaca in Cradock se Lingelihle township in ‘n ysige, geslote klaskamer geslaap.

Vrydagmiddag het sy ma verwoed gesoek toe haar seun nie van die skool af teruggekom het nie. Sy het desperaat by die laerskool aangedoen op soek na haar seuntjie.

Die ma en die onderwysers het buite die skoolgebou rondgekyk maar die kind was nêrens te vinde nie.

Maandagoggend, toe ‘n onderwysassistent en die jong leerling se klasmaats die Graad R-klaskamer oopmaak, was hulle diep geskok om af te kom op die swak en ontwaterde seuntjie, wat in ‘n fetale posisie opgekrul was.

Ná die ontstellended ontdekking is die kind se ma saam met nooddienste na die skool ontbied. Met sy aankoms by Cradock Hospitaal was die seuntjie se toestand so ernstig dat hy in ‘n helikopter na Dora Nginza Hospitaal in Gqeberha vervoer moes word.

Laerskool JA Ncaca het heeltemal te min klaskamers en om die krisis aan te spreek het ‘n vriendelike borg aangebied het om twee grade in ‘n gebou in die hartjie van Cradock te huisves.

Leerders in Graad R en Graad 2leerders loop klas in die dorp, terwyl die ander grade skool bywoon in die hoofskoolgebou in die township.

Die vyfjarige leerling was die hele naweek in die geborgde gebou in die dorp toegesluit.

‘n Besorgde ouer wat gevra het om nie genoem te word nie, het gesê hulle het Dinsdag en Woensdag as ouers bymekaargekom om antwoorde van die skool te eis.

“Ons het met die onderwysers en die distrikskantoor vergader, maar ons was nie tevrede met hul reaksie nie. Hulle het vir ons gesê dat hulle ‘n interne ondersoek doen en dat hulle nie op hierdie stadium die bevindings kan openbaar nie.

“Die skoolhoof moet volle verantwoordelikheid neem en die reg moet sy werk doen. Iemand moet hiervoor rekenskap gee. Hulle het nie eers Graad R onderwysers nie. Leerders word in die sorg van ’n onderwysassistent gelaat wat nie eens bevoeg is om klas te gee nie,” het die siedende ouer gesê.

Die Oos-Kaapse Departement van Onderwys se woordvoerder, Malibongwe Mtima, het ook die voorval bevestig.

“Ja, die ongelukkige voorval het die afgelope naweek plaasgevind. Ons is egter steeds besig met ‘n interne ondersoek na die omstandighede rondom die voorval. Ons kan op hierdie stadium nie veel sê nie,” aldus Mtima.

Kinderregte-aktivis Petros Majola van Khula Development het die Oos-Kaapse Onderwysdepartement versoek om ‘n begroting vir skoolopsigters opsy te sit.

“Hierdie voorval sou nie gebeur het as die skool ‘n opsigter gehad het nie. Hulle sou kon agterkom dat ‘n kind in die klas toegesluit was,” het Majola gesê.

Bekommerde ouers het aan Scrolla.Africa gesê ’n strafsaak is by die polisie geopen. Ten tyde van publikasie het die polisie egter nog nie bevestig of dit wel gebeur het nie.

Op die foto hierbo: Leerlinge staan ​​in gelid by JA Ncaca Laerskool in Cradock

Fotobron: Verskaf