Deur Lucky Maree
Die topspelers in Europese rugby het die Springbok Jasper Wiese gekies as hulle gunstelingspeler van die jaar – en nou kom hy huis toe tot ten minste die Wêreldbeker.
Wiese, wat agtsteman vir die Leicester Tigers speel, het ’n fenomenale jaar beleef. Hy het ses drieë gedruk, 130 duikslae uitgevoer en 218 keer met die bal genael.
Dat sy medespelers hom gekies het, kom as geen verrassing nie. Hy is bekend vir sy kalmte en sy vermoë om op die spel te fokus en konflik te vermy.
Wiese se vorm beteken die Springbokkeurders sal mooi oor dié posisie moet nadink, waar daar geen einde aan talent is nie. Maak dit saak dat Kwagga Smith legendestatus in Japan verwerf as kaptein van die Shizuoka Blue Revs? Wat beteken dit vir Deon Fourie?
Onder die vleuels staan twee name uit: Kurt-Lee Arendse, wie se ster in ’n middelmatige Bulls-span helder skyn, en Cheslin Kolbe, een van die Wêreldbekerhelde van 2019.
Dit lyk asof RG Snyman Eben Etzebeth se ideale slotmaat kan wees – dis nou as laasgenoemde behoorlik fiks is.
Is Faf de Klerk die regte keuse op skrumskakel?
Is Manie Libbok voor Handré Pollard in die ry vir die No 10-trui?
Dit is ’n paar van die moeilike besluite wat Rassie Erasmus en Jacques Nienaber moet maak. ’n Oorvloed talent maak die keuses somsmoeiliker eerder as makliker.
Intussen moet die res van ons onthou om asem te skep. Ons is nog ver van die Springbokke se eerste wedstryd van die jaar teen die Wallabies op Loftus op 8 Julie.
In die foto hierbo: Jasper Wiese
Fotobron: Springbokke