Faf, Virat help RCB tot in die top vier

Deur Dezzi Lennox

Die Royal Challengers Bangalore, met sy kaptein, Faf die Plessis, en Virat Kohli aan die spits, klou verbete aan hulle kans om die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga te haal – maar geen mens durf ’n raaiskoot waag oor wie die top vier gaan wees nie.

RCB het Sunrisers Hyderabad Donderdag met agt paaltjies geklop en Mumbai Indians op lopietempo tot in die vyfde plek laat afskuif, maar dié statistiek is waardeloos as hulle Sondag teen Gujarat Titans, wat klaar die eerste plek opgeëis het, verloor.

Mumbai het ’n makliker wedstryd teen die einste Sunrisers, wat heel onder op die puntelys lê. As albei verloor, kan Rajastan Royals by die agterdeur inglip.

Gister se ster was die Proteas se Toets-paaltjiewagter, Heinrich Klaasen, wat 103 skitterlopies vir Hyderabad van net 51 balle aangeteken het. Veral die draaibalboulers het lelik deurgeloop. 

Tevergeefs. Du Plessis, met 71, en Kohli, met ’n ronde 100, het 172 om die eerste paaltjie aangeteken, en die stryd was gewonne.

Faf loop losvoor as top lopiemaker in vanjaar se IPL, maar was heel tevrede om die meesterlike Kohli se beurt as die toeskouer met die beste uitsig in die stadion te geniet. Dit was Kohli se sesde IPL-honderdtal. Hy trek nou gelyk met Chris Gayle bo-aan dié uitgelese tabel.

In die foto hierbo: Heinrich Klaasen se briljante honderdtal was tevergeefs

Fotobron: IPL