Deur Zukile Majova
“Ek slaap liewer kaal as om ‘n ANC T-hemp te dra – selfs as slaapklere. Boonop kry hulle beslis nie my X op stemdag nie.”
Só het Zilungile Mzozo van Ntabankulu in die Oos-Kaap gereageer op my vraag oor die waarde van ‘n ANC T-hemp in 2023.
Sowat 20 jaar gelede was daai einste ANC-hemp iets waarsonder niemand kon leef nie – veral in hierdie ANC-hartland. Die handjievol mense wat sulke T-hemde besit het, het dit met trots en by spesiale geleentheid gedra om te wys hul skaar hulle by Nelson Mandela se bevrydingsbeweging.
Vandag verbind die aantrek of afwys van enige ANC-regalia mens aan ‘n groep waarna losweg verwys word as “amamenemene ka Tambo” (die Oliver Tambo bende van liegbekke).
Ek dink terug aan wat die ANC vroeër vir my mense in KwaBhaca beteken het – een van die armste dele van die land, waar groot gemeenskappe geen toegang tot kraanwater het nie, en puttoilette die norm is.
Vandag, selfs in hierdie historiese ANC-vesting, is verandering op pad. Die VF+ wen stemme hier, terwyl die DA se Umzimvumbu-tak sedert die November 2021 munisipale verkiesing met meer as 300% gegroei het.
En daarom het ek dit vermaaklik gevind toe die ANC se eerste adjunk sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, saam met ANC-vrywilligers haarself Donderdag met party-T-hemde bewapen het om steun te werf in Wyk 2 van die Imvoti-streek in KZN, voor die 14 Junie tussenverkiesings.
Gewone mense het die manna van gratis T-hemde ontvang, maar wat gaan hulle daarmee doen as hul enigste vooruitsigte ellende, armoede en onderontwikkeling inhou?
Ek kan getuig, uit persoonlike ondervinding, dat ‘n nuttelose T-hemp redelik goed werk as mens die gleuf onder die deur wil toestop wanneer daar op koue winternagte ‘n vrieswind inwaai, of water insypel tydens oorstromings.
Nuttelose goed het hul deugde, vermoed ek. Net soos ‘n stuk koerantpapier goed genoeg is vir die toedraai van gebraaide vis en skyfies.
Mokonyane, in die volksmond bekend as Mama Action, het aan die gemeenskap gesê hulle het nou ‘n betroubare kandidaat in die persoon van plaaslike kerkpastoor Dan Khumalo.
“Wat ek kan sê is ons is bly dat almal in hierdie gemeenskap, jonk en oud, vir Pastoor Dan Khumalo ken, wat die ANC-kandidaat hier is.
“Hy bid vir die krankes en hy lei die plaaslike kerk, so ons vertrou dat almal deur sy dade sal sien dat die ANC betroubaar is en dat ons mense het wat lief is vir gemeenskapswerk.”
Op die foto hierbo: ‘n ANC T-hemp