Deur Dezzi Lennox
“Hy is ’n juweel!” Só het die Wes-Indiese krieketlegende Ian Bishop Woensdag van Riley Rossouw gesê ná sy briljante 82 van 37 balle vir Delhi Capitals teen Punjab Kings in die Indiese Premierliga. Delhi het 213/2 aangeteken en Punjab 198/8.
Delhi, wat lankal uitgeskakel is, se troos-oorwinning het Punjab se kanse bederf om die uitspeelrondes te haal. Teoreties kan hulle nog deurdring, soos Buzz Aldrin teoreties weer op die maan kan loop.
Rossouw is onverskrokke en ongetem. Hy het vyf nulletjies in sy eerse 10 eendagwedstryde vir Suid-Afrika aangeteken. Maar wanneer hy vlamvat, soos gister, is hy onstuitbaar. Hy het ses viere en ses sesse geslaan.
Liam Livingston was net so verwoestend vir Punjab, maar waar Delhi se top-vier almal op dreef was, moes Livingston (94) ’n alleenstryd voer na ’n bisarre besluit van sy kaptein, Shikhar Dhawan, om Atharva Taide op 55 na 42 balle van die veld af te roep om vir aanvallender kolwers plek te maak.
Dié het so gevaar: 0, 6, 11, 0, 0.
Met een bal oor het Livingston ’n ses nodig gehad vir sy honderdtal. Hy het die bal reguit in diepweg se keelgat af geslaan.
In die foto hierbo: Riley Rossouw
Fotobron: @IPL