Manie Libbok se tydsberekening is volmaak 

Created with GIMP

Deur Lucky Maree

Laatvat met Lucky: Die manier waarop Manie Libbok die Stormers se sege Saterdag beheer het, is ’n duidelike teken aan die Springbok-keurders, skryf Lucky Maree.

Sy twee drieë teen Connacht was maar deel van die rede waarom hy die kalklig gesteel het.

Soos dit die geval van die beste losskakels is, het Libbok gelyk asof hy die regte ding doen sonder om te dink; asof hy sy keuses onbewustelik maak.

Maar dit sou gevaarlik (en onregverdig) wees om ’n span se puik vertoning aan een speler toe te skryf.

Wat was eerste, die hoender of die eier?  Het die span Libbok briljant gemaak, of het sy vernuf die span so goed laat speel?

Mens vergeet maklik dat die Stormers se skrum een van die kragtigstes in die Noordelike Halfrond oortref het. Die agterlyn, veral Dan du Plessis op senter en Angelo Davids op vleuel, was skitterend op dreef.

John Dobson gee sy spelers die vryheid om hulleself uit te leef op die veld. Dit werp duidelik vrugte af. Maar Libbok het sy werk op losskakel gedoen en niks anders nie. Sy fokus het vlymskerp gebly.

En dit kan die laaste stukkie van die legkaart wees wat hom die eerste keuse vir die Springbokke maak.

Aan die ander kant van die spektrum (en die ander kan van die wêreld) het die geluksgodin haar mes in vir Handré Pollard.

Rugby is ’n wrede spel. Libbok is op sy beste vorm sewe weke voordat die Springbokke hulle eerste wedstryd in die Rugby Kampioenskap speel, en Pollard word herhaaldelik deur beserings gepootjie.

Pollard het homself as een van die wêreld se bestes bewys, en hy sit dit voort in die taai Gallagher Premierliga, maar bevind hom op die krukkelys wanneer sy span hom die nodigste het.

Rassie Erasmus en sy getroue skaduwee, Jacques Nienaber, is sekerlik hiervan bewus.

As Pollard nie betyds kans kry om te bewys hy is gereed om die No 10-trui in die Groen en Goud te dra nie, sal bogenoemde tweetal nie hard hieroor hoef na te dink nie.

Maar Libbok se groot toets kom nog. Oor twee weke pak die Srormers Munster in die eindstryd van die Verenigde Rugby-kampoenskap. Moenie dink hulle het Libbok se skittervertoning misgekyk nie. Hulle gaan ’n plan teen hom uitwerk.

Dit gaan so straf wees so enigiets wat Libbok nog ervaar het. Die hele Suid-Afrika staan agter hom.

G’n sprake van druk nie, nè Manie?

In die foto hierbo: Manie Libbok 

Fotobron: Twitter