Deur Karabo Rammutla
Die kragopwekker is onbetroubaar en die petrol raak soms in die middel van die nag op. Bedags is daar geen krag nie. Polisielede kan nie eens koffie maak of hulle selfone laai nie.
Dit is hoe sake staan by Rietgat Polisiestasie in Soshanguve in Tshwane sedert die kragkabels drie jaar gelede gesteel is.
Inwoners wil nie snags sake by die polisie aangee nie, omdat dit gevaarlik is, en polisielede sukkel om hulle werk te doen. Een beampte, wat naamloos wil bly, sê alles word erger soos die winter nader kom.
“Dit is koud en ons kan nie verwarmers aanskakel nie, en ons kan nie ons kos warm maak nie,” het die beampte gesê.
Die kragopwekker skep net genoeg elektrisiteit om ’n paar vertrekke te dien. Die res is donker. “Vroue-polisielede moet die badkamers in groepe besoek. Ons is bang, en die publiek steun op ons.”
’n Plaaslike aktivis, Asnath Molomo, sê die polisie het duidelik moed verloor.
Moloma, wat mishandelde vroue bystaan en die polisiestasie gereeld besoek, sê wanneer mens instap, sien jy dadelik hoe laag hulle energievlakke is. “Dis moeilik om jou te verbeel dat hierdie beamptes hulle werk met die nodige energie en ywer kan doen,” het sy gesê.
Volgens Molomo kom slagoffers eerder na haar toe as om sake by die polisie aan te meld.
Thami Mchunu, segspersoon vir die Departemend van Openbare werke, het gesê hulle het by die munisipaliteit gevra dat die kragtoevoer herstel word.
Die stasie was met die Mabopane spoorwegstasie verbind, en booswigte het die kabels gesteel. Die polisie het ’n regsreekse kragverbinding aangevra, maar niks het gebeur nie.
In die foto hierbo: Polisie by Rietgat Polisiestasie werk al drie jaar lank sonder krag