Deur Nadine Theron
Die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Menseregte wil twee Suid-Afrikaanse burgers huis toe te bring wat al 10 jaar onder dwang in die Verenigde Arabiese Emirate is.
Die sentrum het Maandag ’n klag teen dié land by die Verenigde Nasies se internasionale werkgroep vir arbitrêre aanhouding gelê.
Sello Tsolo, 62, en Thojo Kambule, wie se ouderdom nie aan Scrolla.Africa bekend is nie, woon die afgelope ses jaar op die Suid-Afrikaanse Ambassade se stoep.
Albei mans sê hulle is geswendel on vals skulderkennings te teken, en het tronkstraf daarvoor uitgedien, maar mag nie die land verlaat nie. Daar word beweer dat hulle geld onwettig bekom het, wat hulle moet terugbetaal.
Volgens die sentrum se direkteur, prof. Frans Viljoen, het die VAE herhaaldelik Tsolo en Kambule se menseregte oortree en word hulle onregverdig aangehou.
“Die VAE het geen reg om te weier dat die mans die land verlaat nie, en hulle aanhouding volg nie die beginsels van ’n regverdige hofsaak nie,” lui die klagte.
Tsolo was in die VAE op ‘n sakereis, wat twee weke sou duur, om ‘n werk- en besigheidsaanbod met ’n Indiese sakeman te ondersoek.
Dié man, Amit Lamba, het Tsolo se vertroue gewen, en hom oorreed om ’n ooreenkoms met hom aan te gaan, waarvolgens hy Lamba se maatskappy se Afrika-verteenwoordiger sou wees.
Lamba was toe al die tyd ’n berugte swendelaar, wat vroeër in Indië met die gereg gebots het, en die dokument, wat Tsolo nie behoorlik verstaan het nie, was ’n beknoeide skulderkenning.
Daar is op sy paspoort beslag gelê, en hy is op 26 Desember 2013 in hegtenis geneem. Tsolo het 27 maande tronkstraf uitgedien.
Hoewel hy op 29 Maart 2016 uit die tronk vrygelaat is, vereis die Emirate se wet dat hy nog steeds sy sogenaamde “skuld” moet terugbetaal voordat hy die land kan verlaat.
Kambule was vir 38 maande in die tronk nadat hy met ’n soortgelyke slenter verkul is. Die VAE se hoofregter het op 11 Oktober 2016 gesê Kambule se skulderkenning was onwetting. Hy was amptelik ’n vrye man – maar die vryheid om na sy eie land terug te keer, is hom steeds nie beskore nie.