Kapenaars sit hul lewens op die spel vir Sassa se aalmoese

Deur Buziwe Nocuze

Al hoe meer plaaslike inwoners oornag buite Sassa-kantore om die optel van hul toelae die volgende oggend te verseker.

Inwoners van Kaapstad stel hul lewens in gevaar deur buite die Beautiful Gate-kantore te slaap, net om eerste in die ry vir bystand te wees.

Hulle arriveer van so vroeg as 3nm die vorige dag om hul plek te verseker. Sommige slaap op die sypaadjie terwyl ander op ou stoele en emmers sit.

Hierdie begunstigdes sê hulle is moeg daarvoor om huistoe gestuur te word sonder die bystandgeldjie, en daarom het hulle besluit om die reg in eie hande te neem.

Een begunstigde, wat gevra het om anoniem te bly uit vrees dat hy nie sy geld sal ontvang nie, het gesê: “Ek is ‘n paar keer teruggestuur omdat ek soggens omstreeks 4-uur hier aangekom het. Ek het toe besef dat daar mense is wat hier slaap sodat hulle eerste in die ry kan wees.

“Ek het besluit om dieselfde te doen, want ek het die geld nodig.”

Mzimasi Mateza, 40, is onder diegene wat buite die kantore slaap. Hy doen ‘n beroep op Sassa om vir hulle ’n veiliger slaapplek te kry en sê: “Sassa moet die Beautiful Gate vra om vir ons die saal binne te gee as slaapplek, want dit is koud en gevaarlik buite.

“Sassa-werknemers het geen simpatie met ons lot nie. Sommige van hulle is buierig en kla oor die stelsel se stadige pas.”

Nomakholwa Matikinca, 43, het buite die kantore geslaap selfs al al het sy ‘n afspraak gehad. “Dit maak nie saak of jy ‘n afspraak het of nie, hulle skroom nie om jou terug te stuur huis toe nie. Daarom het ek besluit om hier te kom slaap,” het sy gesê.

Sassa Wes-Kaap se segspersoon Shivan Wahab het gesê die Sassa Gugulethu-kantoor het ‘n aansienlike aanvraag na dienste en ‘n hoë instroming van kliënte.

“Op grond hiervan het Beautiful Gate in Maart 2022 as ‘n permanente perseel begin funksioneer. Werkure is soos alle ander Sassa-kantore, daagliks van Maandag tot Vrydag, en is ‘n uitbreiding van dienste om te voorsien aan die groot aanvraag in die gemeenskap.”

Sy het gesê geen Sassa-kliënt is veronderstel om oor te slaap nie. “Sassa het die gevaar van hierdie praktyk aan kliënte benadruk.”

Volgens haar is die afspraakstelsel ingestel om lang wagtye in die ellelange tou te verkort. Onder geen omstandighede moet enige kliënt by enige kontakpunt oorslaap vir toegang tot dienste nie.

“Kliënte het die opsie om toegang te verkry tot die Sassa-kantoor wat vir hulle die gerieflikste is. Alternatiewelik het Sassa ‘n aanlyn aansoekstelsel tydens Covid-19 ingestel om dienste meer toeganklik te maak,” het Wahab gesê.

Op die foto hierbo: Sassa-begunstigdes in Kaapstad waag hul lewens deur buite die Beautiful Gate-kantore te slaap om voor in die ry te wees

Fotobron: Buziwe Nocuze