Jake se Bulle kan Stormers gaffel

Deur Dylan Bettencourt

SPORTKEUR: Die Stormers word moeilik op hulle tuisveld geklop, maar die Bulls speel uiteindelik die soort rugby wat ’n verrassing kan oplewer. 

➤ Die Bulls se afrigter, daardie slinkse ou jakkals Jake White, is bekend daarvoor dat hy onbelangrike wedstryde verloor, en wen wanneer dit werklik saak maak. En Saterdag se kwarteind in die Verenigde Rugbykampioenskap is die belangrikste van die jaar tot dusver.

Vir die Stormers is Evan Roos op volle vaart en Deon Fourie, wat ’n Springboklegende gaan word, reg om te speel. En van volle vaart en toekomstige legendes gepraat, Sacha Mngomezulu gaan ook in aksie wees.

En dan is daar die tweestryd tussen Kurt-Lee Arendse en Damian Willemse, twee van die opwindendste agterspelers in die land.

Die wedstryd skop om 3.30 nm af.

In Dublin kan net ’n wonderwerk die Sharks teen Leinster red.

Hulle swem stroomop, en die verwagte reën gaan boonop in die tuisspan se guns tel. Ondanks die bibberweer is Leinster witwarm op die veld.

Staan sterk, Saterdag 6 nm.

➤ Die VRK het nou wel die Curriebeker se glans effens verdof, maar as jy die tydjie kan afknyp om te kyk, sal jy nie spyt wees nie.

Die Pumas was laasweek swak teen die Lions, en sal hulle oemf moet terugvind as hulle die Griffons (1 nm) wil klop. 

Die Cheetahs is bo aan die puntelys, maar die Westelike Provinsie kan hulle kaarte deurmekaarkrap (3 nm). In die derde wedstryd, om 5.5 nm, is dit die Blou Bulle teen die Sharks.

Al die rugby-aksie is regstreeks op die DStv kanale 201 en 211.

➤ Arsenal se wedstryd teen Newcastle, Sondag om 5.30 nm, is een wat hulle moet wen as hulle wil keer dat die stomende Manchester City hulle agterlaat in die Engelse Premierliga.

City speel teen Leeds United, wat Sam Allardyce aangestel het om ’n wonderwerk te verrig en hulle in Engeland se voorste toernooi te hou. (Saterdag 4 nm.)

Die groot sokker is op DStv kanaal 203 te sien.

➤ Formule 1 mik na die VSA vir die Miami Grand Prix. 

Red Bull was dominant in Azerbaijan en gaan hulle karre glo verder verbeter, so ons kan maar verwag dat dit weer so gaan wees.

Hou maar ’n energiedrankie gereed – wat sê jy van ’n Red Bull? – want die wegspring is eers Sondag om 10nm.

Die aksie is op DStv kanaal 215. 

In die foto hierbo: Westelike Provinsie druk ’n drie teen die Blou Bulle

Fotobron: WP Rugby