Hoe om met moord weg te kom

Deel twee: Sibusiso en Lerato Mahlangu het in die hof verskyn, op aanklag dat hulle Sibusiso Sithebe vermoor en Mahlangu se dood nageboots het. Só het hulle dit gedoen.

Op Nuwejaarsdag 2022 is ’n lyk in die puin van ’n uitgebrande huis in Tshwane gevind.

Die huis het aan Sibusiso en Lerato Mahlangu behoort, en Sibusiso se trouring was aan die oorledene se vinger.

Dit het na ’n uitgemaakte saak gelyk: Mahlangu het in die brand omgekom. Hy is agt dae later begrawe.

Maar Mahlangu was nie die man in die kis nie. Hy het tussen sy geliefdes rondgestap. Die lyk was dié van Sibusiso Sithebe.

Sibusiso Mahlangu en Lerato Mahlangu het Donderdag in die Landdroshof in Soshanguve op aanklag van moord op Sithebe verskyn.

’n Familielid van Sithebe, Dimakatso Masango, sê toe die lyk gevind het, was net die kop verbrand – en onuitkenbaar.

Mahangu word daarvan verdink dat hy Sithebe vermoor het en sy eie trouring aan die oorledene se vinger geplaas het.

Sithebe se tannie, Tinny Khumalo, sê die familie was geskok om te verneem haar susterskind is as iemand anders begrawe.

“Ons wil weet waar Sibusiso begrawe is, sodat ons die liggaam kan terugkry en hom behoorlik tot ruste kan lê, volgens die familie-gebruik.”

Lerato Mpefo, Sithebe se lewensmaat ten tyde van die moord, het buite die hof aan Scrolla.Africa gesê sy wil net haar geliefde begrawe.

“Wat sê ek vir die kinders oor hulle pa se dood?”

Sibusiso Sithebe was die derde van vyf kinders uit ’n Christengesin, en gek na Gospel-musiek.

Lumka Mahanjana, segspersoon vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê daar word vermoed dat Lerato Mahlangu ’n vals doodsertifikaat van die Departement van Binnelandse Sake ontvang het.

Die tweetal sal op 18 Mei terug wees in die hof vir ’n borgtogaansoek. 

In die foto hierbo: Sibusiso Mahlangu en sy vrou, Lerato Mahlangu, het in Soshanguve se Landdroshof verskyn op aanklag van moord op Sibusiso Sithebe.

Fotobron: Nasionale Vervolgingsgesag