Deur Razeen Gutta
Vir die tweede wedstryd op ’n streep het die span wat eerste kolf ’n lae telling verdedig, toe ’n sukkelende Delhi Capitals ’n karige 130 lopies in Ahmedabad in ’n wentotaal omskep het.
Mohammed Shami se skitterende boulsyfers – 4/11 – het Capital se top-orde geknak. Op 23/5 na slegs vyf boulbeurte het dit gelyk asof net ’n wonderwerk hulle sou kon red.
Die 26-jarige Aman Khan het daardie wonderwerk in ’n verstommende terugvegpoging met ’n vyftigtal aangevuur, terwyl Axar Patel 27 bygedra het tot ’n amper skaflike 130/8 in hulle 20 boulbeurte.
Hulle hoop het opgevlam toe hulle Wriddhiman Saha in die eerste boulbeurt vir ’n nulletjie uithaal.
Titans se kaptein, Hardik Pandya, het gelyk of hy eiehandig die wedstryd vir sy span gaan wen deur dwarsdeur die kolfbeurt staande te bly. Sy 59 moes die wedstryd beklink het.
Maar sake het anders verloop. Ishant Sharma het die horlosie met twee paaltjies teruggedraai, terwyl Anrich Nortjé, Khaleel Ahmed en Kuldeep Yadav met reëlmaat onder die kolwers gemaai het.
Met die laaste bal van die beurt het Delhi ’n onverwagse sege afgerond.
Die wedstryd was ’n eggo van Maandag s’n, toe Royal Challengers Bangalore 126/9 suksesvol verdedig het deur Lucknow Super Giants vir 108 uit te knikker.
Faf du Plessis, die voorste lopiemaker in die toernooi, was vir die soveelste keer RCB se redder, met 40 op ’n blad wat die draaiers begunstig het. Die voormalige Protea-kaptein, een van die dae 39, se 28 sesse is ook die meeste in vanjaar se toernooi.
In die foto hierbo: Delhi Capitals
fotobron: @delhicapitals