President Cyril Ramaphosa het Kirsten Neuschäfer van Gqeberha, wat die gesogte en veeleisende Golden Globe-wedvaart gewen het, se lof besing.
Sy het byna 235 dae alleen ter see deurgebring in ‘n byeenkoms wat vereis het dat mededingers sonder GPS of enige ander tegnologie hul pad moes vind.
“Kirsten was die enigste vroulike deelnemer en het die eerste vrou geword wat ‘n solo-rondom-die-wêreld-wedloop gewen het. Op haar reis het sy ook ‘n Finse matroos gered wie se boot in die Suid-Indiese Oseaan gesink het,” het Ramaphosa Sondag gesê.
Neuschäfer het die drie Kape geklap en haar 15 mededingers gewys wie’s baas sonder om by enige hawens te stop, hulp te ontvang, of moderne navigasietoestelle te gebruik. “Die kersie op die koek was dat Kirsten haar prestasie op Vryheidsdag voltooi het,” aldus Ramaphosa.
“Ons is trots op jou, Kirsten,” het hy bygevoeg.
Die 39-jarige matroos het die eindpunt aan die Franse kus bereik ná 235 uitmergelende dae in die Golden Globe rondom-die-wêreld wedvaart.
Neuschäfer se oorwinning het op Suid-Afrika se Vryheidsdag geval, en sy het emosioneel en geëerd gevoel toe sy het haar oorwinning aan “Mandela” opdra.
Haar ma het haar omhels toe sy by Les Sables d’Olonne aanland gestap het. Neuschäfer se sukses was iets waarvan haar ma se generasie nooit sou kon droom nie.
“Van alle moontlike mense, as daar een persoon is wat ek wens ek kon ontmoet is dit Nelson Mandela,” het sy Vrydag op haar wennersperskonferensie gesê.
“Ek is lief vir Suid-Afrika soos dit vandag is, en dit is aan hom te danke – sy opofferings was geweldig,” het sy gesê.
Die wedren was hoogs uitdagend en daar word verwag dat slegs twee ander mededingers dit amptelik gaan voltooi. Indië se Abhilash Tomy behoort in die komende dae te arriveer, terwyl Michael Guggenberger van Oostenryk glo naby die Kanariese Eilande ronddobber.
Neuschäfer moes deur verskeie hewige storms veg, maar haar frons het verander in ‘n stralende glimlag namate haar prestasie ingesink het.
“Dit is ongelooflik, amper te veel om in te neem na al die maande van alleenwees,” het sy gesê nadat sy voet op terra firma gesit het.
Ter erkenning van haar heldhaftigheid is haar finale vaartyd met twee dae verminder tot 233 dae, 20 uur, 43 minute en 47 sekondes.
Die Gqeberha-gebore Neuschäfer is sedert 2006 ‘n professionele vaarder wat spesialiseer in die oordrag en aflewering van seiljagte per see.
Op die foto hierbo: Kirsten Neuschäfer
Fotobron: Twitter