Deur Dezzi Lennox
Faf du Plessis word oor twee maande 39 en speel die beste krieket van sy lewe – maar Krieket Suid-Afrika maak g’n aanstaltes om hom terug na die Protea-kamp te lok nie. En dit met die eendag-Wêreldbeker net vyf maande weg.
En volgende jaar is daar weer ’n T20 Wêreldbeker. Hy moet in albei speel.
Sy 422 lopies teen ’n gemiddeld van 60.28 is loshande die beste in vanjaar se Indiese Premierliga, wat, kom ons sê dit saggies, meer mededingend is as die T20 of eendag-Wêreldbeker.
Daar is gaan swak spanne of maklike wedstryde nie.
Virat Kohli, wat die beurt saam met hom vir Royal Challengers Bangalore begin, lê tweede met 333 lopies. Dáái vertel jou ’n ding.
Toegegee, Du Plessis se verhouding met die plaaslike krieketbase is soos ’n werkromanse – gekompliseerd – maar in dié geval hoef niemand mekaar in die kantien te verskree nie.
Wat ons daarvan weet: terwyl Graeme Smith direkteur van SA Krieket was en Mark Boucher afrigter, het hulle die deur in sy gesig toegeklap, vermoedelik omdat hulle – oeps – gereken het sy beste dae is verby.
Hy is nie ’n nasionale vir die 2022/23 seison aangebied nie, omdat hy hom reeds aan lonende T20 reekse elders verbind het. Geheel en al te verstane.
Maar daar is tyd om tot ’n vergelyk te kom. Anders as AB de Villiers, wat in 2019 onbeskikbaar was vir die Wêreldbeker tot presies ’n dag voor die span aangekondig is, het Faf klaar vir die nuwe afrigter in die twee kort formate, Rob Walter, laat weet hy sal speel as hy gekies word.
Die twee het glo ’n ruk gelede in Kaapstad smoothies saam gedrink. Hoe gladweg dit verloop het, weet ons nie.
En dit was voor Faf se heldedade in die IPL.
Hy is op die oomblik ons beste kolwer. As hy sy vorm behou, moet hy in Oktober in die Wêreldbeker speel. Hoe moeilik kan dié besluit wees?
In die foto hierbo: Faf du Plessis ná sy honderdtal teen Australië in die 2019 Wêreldbeker
Fotobron: ESPN Cricinfo