Deur Doreen Mokgolo
Die Durban General-ster maan kykers om deur sy karakter wys te raak oor tekens wat daarop dui dat jou verhouding op misbruik afstuur.
Die akteur vertolk die rol van mediese dokter Skhumbuzo Khumalo, by wie sy verlede steeds spook nadat hy as jong seun seksueel geteister is deur sy tante.
In gesprek met Scrolla.Africa het Matlala gesê die rol het hom gedwing om van die mishandelaars te ontmoet om te probeer verstaan waarom hulle in monsters verander het.
“Ek het tronke besoek, en gesprekke gehad met mense op parool en organisasies wat slegs met mans werk. Ek was oorweldig deur die pyn wat tot hul optrede gelei het,” het hy gesê.
“Ons samelewing is vol probleme. Ons land word geteister deur gevalle van geslagsgeweld en vroue word daagliks vermoor deur mense wat aan hulle bekend is, selfs hul minnaars.”
Hy het gesê mans moet eerlik wees oor die pyn wat hulle ervaar.
“Ek moedig mans aan om uit te praat en berading te soek. Dit wys nie op swakheid as jy uitreik na hulp nie, maar om jou frustrasies op die kwesbares uit te haal is ‘n teken van verskriklike swakheid,” het hy gesê.
Matlala het gesê hy word nou as mishandelaar geoordeel weens sy rol in die program.
“Ek word gereeld uitgevra oor my rol en vir ‘n reeksmoordenaar aangesien. Selfs my goeie vriende het aan my beken dat hulle sukkel om tussen my en die karakter te onderskei,” het hy gesê.
“Ek is bly dat ek lewe kon blaas in die rol en dus gesprekke oor die onderwerp aanwakker.”
Hy het gesê dit was die grootste uitdaging van sy loopbaan.
“Om my ten volle in te leef moes ek op stel begin rook – ‘n verslawing waarvan ek in my jong dae ontslae geraak het,” het hy gesê
“As wedergebore Christen het ek gevrees dat mede-Christene my sou oordeel aangesien ons misbruik van sulke middele teenstaan.”
Matlala werk aan sy nuwe rol in ‘n eTV-drama waar hy ‘n sakeman gaan vertolk. Hy is ‘n bekende gospelkunstenaar en beplan om later in die jaar ‘n nuwe album vry te stel.
Op die foto hierbo: Akteur Tumelo Matlala
Fotobron: Verskaf