’n Nuwe laagtepunt vir Ramaphosa

Deur Zukile Majova

Die afgelope week se monumentale misoes oor Suid-Afrika se deelname aan die Internasionale Kriminele Hof het onteenseglik bewys die land kan nie meer die stem van die kontinent wees nie.

Die wêreld het die ANC amper 30 jaar lank die voordeel van die twyfel gegee, maar dinge verander.

Die party het op die eerste twee presidente, Nelson Mandela en Thabo Mbeki, se reputasies gesteun om as die stem van die kontinent gereken te word.

Suid-Afrika se grondwet en Mandela se buitelandse beleid, veral in uitsprake teen menseregte-vergrype elders in die wêreld, het aan die land toegang tot verskeie internasionale instansies gegee, byvoorbeeld as ondertekenaar van die Statuut van Rome.

Ander lande was nie gekkig genoeg om te dink Madiba se waardes verteenwoordig dié van die ANC nie.

Oor die jare heen het die ANC se verdraagsaamheid teenoor korrupsie, wat die verkiesing van leiers met twyfelagtige morele waardes soos Jacob Zuma en Ace Magashule insluit, aan die wêreld gewys dat Nelson Mandela se gees die ANC verlaat het.

Twee verwikkelinge hierdie week het bevestig dat Suid-Afrika nie meer aan die verwagtinge van die wêreldverhoog voldoen nie.

Eerstens is daar berig dat Japan, wat die volgende G7 samekoms van die wêreld se grootste ekonomië aanbied, nie vir President Cyril Ramaphosa daarheen uitgenooi het nie.

En dit is omdat die land nie meer as ’n regmatige verteenwoordiger van die kontinent gereken word nie.

Verder was daar die oomblik toe Ramaphosa aangekondig het dat die land aan die Internasionale Krimimele Hof onttrek, ná ’n besluit deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee.

Dit kom toe aan die lig dat die ANC ná vier dae se debatvoering nie enige besluit geneem het nie.

Die regering bly ’n ondertekenaar van die Statuut van Rome, maar duidelik sonder die verwagting dat staatshoofde wat oorlogsmisdade pleeg in hegtenis geneem sal word indien hulle die land besoek.

Vir die afgelope 10 jaar bespreek die party die land se deelname aan die IKH by verkiesingskonferensies.

Afgevaardigdes verskil, met stemme om die helfte verdeel. Die een groep wil onttrek, weens “inkonsikwentheid en onregverdigheid” in die manier waarop die IKH sy mandaat uitoefen.

Suid-Afrika was al voorheen in dieselfde dilemma. Wetstoepassers het versuim om die voormalige Sudanese president Omar al-Bashir in hegtenis te neem, ondanks ’n lasbrief van die oorlogmisdaadhof.

En nou is dit duidelik dat die land nie die IKH se lasbrief gaan gehoorsaam wanneer die Russiese President, Wladimir Poetin die land in Augustus vir die volgende Brics-byeenkoms besoek nie.

Wat die ANC moet besef is dat lidmaatskap aan wêreldliggame ’n las van diens en verantwoordelikheid dra. Die land kan nie by die groot kanonne aansluit vir die pret nie.

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa

Fotobron: Twitter