Deur George April
’n Boer van ’n plaas naby Hopefield, Ruben Kotze, is Dinsdag borgtog toegestaan in die landdroshof op Hopefield nadat hy in hegtenis geneem is vir die erge aanranding op ’n vrou – onder meer omdat die ondersoekbeampte nie by die hof opgedaag het nie.
Volgens ’n regskenner waarmee Scrolla.Africa by die hof gepraat het, moes die landdros weens die erns van die saak die ondersoekbeampte op die daad gedagvaar het.
Die klaagster, Jaqueline Jordaan, het gister (Donderdag) vertel wat Saterdag aanleiding gegee het tot haar aanranding.
“My 12-jarige dogter het voor die huis gestaan, toe die man op haar begin vloek het. Hier het goeters op die werf rondgele, soos die beeste hier rond wei. Dit het niks met my meisiekind uit te waai nie.
“Toe ek hom sê dis nie reg nie, het hy op my afgepyl, my aan die keel gegryp, gewurg en met die kop gestamp. Ek het op die grond beland en gedink ek gaan dood. My kêrel het tot my redding gekom en hom van my afgeruk,” het sy gesê.
Toe sy die saak by die polisie in Laaiplek wou aanmeld, het ’n sersant Vosloo geweier om haar te help, sê sy. “My gesig, nek, my tong, alles was seer, en ek moes toe die polisiestasie verlaat sonder dat my klag aanvaar is.
“Toe ek tuis kom, hoor ek my kêrel is afgedank, en ons krag afgesit. Kotze het gesê ons moet trap.
“Ek het die Maandag teruggegaan en ’n ander polisieman het ons verklaring afgeneem. Kotze is dieselfde dag nog in hegtenis geneem.”
Daarna het Jordaan vir Billy Claasen, Uitvoerende Direkteur van die Landelike en Plaaswerkers-organisasie gebel. Hy is dadelik na die plaas toe, en het aan Scrolla.Africa gesê: “Ek het gesorg dat die mense se krag aangesit word. Hulle gaan ook nêrens heen trek nie.”
In die hof het Kotze se prokureur in sy borgaansoek gesê sy kliënt onderneem om nie met die klaagster in aanraking te kom nie.
Die ondersoekbeampte het nie opgedaag nie, dus is die borgtog nie teengestaan nie. Die landdros het Kotze gewaarsku om nie by die ondersoek in te meng nie.
Die saak is uitgestel tot 19 Mei.
In die foto hierbo: Derick Coetzee moes toe sy lewensmaat, Jaqueline Jordaan, se redding kom toe sy deur hulle werkgewer aangeval is.
Fotobron: George April