Bulls gaffel tweedeklas Leinster

Deur Lucky Maree

Die Bulls is in topversnelling – en hoe!

Na 15 minute van hulle wedstryd teen Leinster op Loftus in die Verenigde Rugbykampioenskap Saterdagaand, en met die telbord wat op 0-0 vashaak, sou min toeskouers die stormloop kon voorsien wat die volgende uur sou oplewer.

Rustyd was hulle al 30-0 voor, en dié sou hulle opskuif na ’n verpletterende 62-7.

Leinster se plek op die puntelys is veilig, en hulle het nie hulle beste span gekies nie, maar hulle sou nie gereken het op die manier waarop die Bulls hulle verdediging sou verflenter nie.

Dit was ’n spanpoging, maar as mense helde móét uitkies, verdien Canaan Moodie, Ruan Nortje en Stedman Gans vermelding, en op losskakel het Johan Goosen die wedstryd beheer.

En dan was daar Kurt-Lee Arendse. Sy twee drieë vertel nie die hele verhaal nie. Uit die heelagter-posisie het hy ’n rol in feitlik elke agterlyndrie gespeel. Hou hom dop wanneer die Springbokke in Julie op die veld draf.

Die Bulls se oorheersing was iets om te aanskou. Hulle het die een skrum-strafskop na die ander afgedwing, soos Leinster verkrummel het.

Die Stormers, wat die Bulls in die VRK se uitspeelronde aandurf, weet hoe gevaarlik hulle agterlyn is, maar sal hulle ook vir ’n groot aanslag in die skrums moet voorberei.

˃ In Durban het die Shark teen Munster ’n rustydvoorsprong van 19-3 – en ’n plek in volgende jaar sese Kampioenebeker-toernooi – weggesmyt. Die eindtelling was 22-22.

Siya Kolisi se besering na slegs sewe minute is boonop ’n groot bron van kommer vir die Sharks én die Springbokke.

Die tuisspan het nietemin puik rugby in die eerste helfte opgedis, met drieë deur Bongi Mbonambi, Werner Kok en Sikumbuzo Notshe, waarop Munster met ’n enkele strafskop deur Jack Crawley kon antwoord.

Curwin Bosch is ook in die eerste helte ná ’n besering van die veld af, en daarna was die Sharks se fut uit.

Boeta Chamberlain het vroeg in die tweede helfte ’n strafskop oorgeklits, en daar het die Sharks se kraantjie drooggeloop.

Twee drieë en ’n strafdrie het Munster gelykop laat trek, en hulle het amper-amper in die doodsnikke ’n wendrie gedruk.

In die foto hierbo: Bulls teen Leinster

Fotobron: @BlueBullsRugby