Smarties maak ’n plan om booswigte weg te hou

Deur Buziwe Nocuze

Inwoners van Smarties in Mfuleni, Kaapstad het in- en uitgange na hulle gebied gesluit om die geweld hok te slaan wat die gemeenskap treiter. Net een pad bly oop.

Verlede week het hulle pype, klippe en sand gebruik om die pad te versper. Voetgangers kan vryelik in- en uitbeweeg, maar motors mag nie deur die gebied ry nie.

Die besluit is geneem nadat inwoners gekla het dat hulle die slagoffers van geweldmisdadigers geword het wat die gebied met gemak binnegaan as gevolg van die talle in- en uitgange.

’n Inwoner, Siyolise Dumashe, het gesê sy het drie mans in ’n wit Avanza teëgekom wat voorgegee het dat hulle verdwaal het en op soek is na een van hulle vriende.

“Ek het vir hulle gesê ek het nog van niemand met daardie naam gehoor nie,” het sy gesê.

Later, toe sy van die winkels huis toe gaan, het dieselfde drie mans vir haar gewag en alles in haar huis gevat, selfs die vleis in die mikrogolf.

Anele Mkhontwana is op pad werk toe deur twee mans beroof wat hom gevolg het.

“Ek het die kar voor een van die huise sien staan, maar nie geweet hulle is misdadigers totdat hulle my begin volg het nie.”

Hulle was gewapen, en hy kon hom nie teësit toe hulle sy selfoon eis nie.

“Deur die paaie te sluit, kan ons onsself teen misdadigers beskerm. Nou is daar ten minste net een in- en uitgang,” het hy gesê.

Raadslid Mongezi Madikane het die gevare erken wat die gemeenskap in die gesig staar.

“Ek het aanbeveel dat hulle ’n buurtwag vorm. Ek kan hulle nie toestemming gee om paaie te sluit nie,” het Madikane gesê.

Die Wes-Kaapse polisie-segspersoon, Luitenant-Kolonel Malcolm Pojie, het gewaarsku dat die ongemagtigde padsluitings en die gebruik van infrastruktuur wat nie aan hulle behoort nie onwettig mag wees.

“Ons vra die publiek om nie die reg in hulle eie hande te neem nie, maar insidente aan die owerhede te rapporteer,” het hy gesê.

In die foto hierbo: Die gemeenskap van Smartie in Kaapstad hoop die sluiting van sommige in-en uitgange sal misdaad in die gebied bekamp

Fotobron: Buziwe Nocuze