Deur Thathe Msimango
Suid-Afrikaanse vroulike atlete was verheug om te hoor dat die Spar 10km Vroue Grand Prix nou spog met groter pryse vir die algehele wenner, en ekstra aansporing vir ander hardlopers.
Die Grand Prix vier sy 30ste bestaansjaar en word in Kaapstad, Durban, Johannesburg, Gqeberha, Mbombela en Pretoria aangebied. Die wedloop lok vroulike hardlopers van regoor Afrika.
Die eerste been sal hierdie naweek in Kaapstad plaasvind.
Organiseerders het aangekondig dat die algehele wenner ‘n allemintige R200,000 huis toe sal neem – ‘n baie welkome R10,000 meer as verlede jaar se prysgeld.
‘n Bykomende prys van R75,000 wag op die Suid-Afrikaanse atleet wat die hoogste punte behaal.
Die top 25 hardlopers verdien punte in elke wedloop, en die finale wenner word bepaal deur die totale gekombineerde punte.
Kesa Molotsane, die 2017 Grand Prix-wenner en deelnemer aan vanjaar se Wêreld Atletiek Landloopkampioenskap in Bathurst, Australië, het die nuus verwelkom.
“Dit is goeie nuus. Meeste van die deelnemers kompeteer op ‘n professionele basis en hou so kos op hul gesinne se tafels,” het sy gesê.
Volgens Molotsane sal die ekstra geld hardlopers motiveer om beter te vaar, aangesien die wedloop een van min in die land is wat uitsluitlik vir vroue gehou word.
Die 2018-wenner Glenrose Xaba glo dat die wedloop hardlopers gehelp het om hul tye te verbeter. Sy is verheug oor die toename in prysgeld.
“Om vir ‘n groter beurs te kompeteer, maak die wedloop soveel meer intens,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: Kesa Molotsane
Fotobron: Twitter