‘n Musikant soos min wys Gina Mabaso trots haar ware kleure

Deur Doreen Mokgolo

Gina Mabaso is onstuitbaar wanneer dit kom by die oorsteek van grense en verplettering van stereotipes deur middel van haar musikale talent.

Die 30-jarige musikant van Soshanguve in Tshwane gebruik hierdie platform om negatiewiteit oor die LGBTQ+-gemeenskap om te keer.

Mabaso se pad sover is een propvol krag en dapperheid. As tiener het sy gesukkel met haar seksualiteit en gevrees dat die samelewing haar sal verdryf. Maar met die ondersteuning van haar familie en vriende leef sy nou as trotse lesbiër.

Mabaso moes egter steeds met mense omgaan wat geweier het om haar te aanvaar soos sy is. Ten spyte van die oordeel, het sy geweier om terug te staan. “Ek moes ‘n dik vel ontwikkel om te voorkom dat die stereotipes my laat verbrokkel,” het sy aan Scrolla.Africa vertel.

Sy het in 2013 by die vermaaklikheidsbedryf betrokke geraak as deel van die Noordwes-span in die Clash of the Choirs. Dié kompetisie het deure vir haar oopgemaak om in produksies soos Marikana the Musical, Amandla en Jonas Gwangwa op te tree.

Op hierdie verhoë neem Mabaso ‘n standpunt in en gebruik haar stem om haar doelwit te behaal. “Ek doen my deel deur op elke geleentheid sienings te probeer verander en mense op te voed oor die LGBTQ+-gemeenskap,” het sy gesê.

Sy glo daar is nog ‘n lang pad voor wanneer dit kom by aanvaarding en begrip van Suid-Afrika se LGBTQ+-gemeenskap. Maar met mense soos Mabaso as voorbok, word die regte rigting ingeslaan.

“Ons het nog baie opvoeding om te doen, maar ek is vol hoop dat ons sal voortgaan om vordering te maak.”

Video hierbo: Gina sing haar liedjie “Self Love” by die SAST Fringe in 2021

Op die foto hierbo: Gina Mabasa

Fotobron: Verskaf