Land steeds in duister ná noodvergadering

Deur Zukile Majova

Na ’n week van Fase 6 beurtkrag, is daar steeds geen plan om die land se kragtoevoer te stabiliseer nie.

President Cyril Ramaphosa het Woensdagaand ’n noodvergadering gelei wat geen kitsoplossings gebied het nie.

Daar is wel besluit om die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, op nog ’n feitesending na Eskom se kragstasies te stuur.

Hy het die eerste maand in sy nuwe amp daaraan bestee om al 15 kragstasies te besoek en met bestuurder en werkers te gesels.

Ramokgopa het ’n uitvoerige verslag van sy ondersoek aangebied, waarin hy vra dat die proses om uitgediende kragstasies buite werking te stel, vertraag word.

Die nuwe strategie is aan die ANC se Nasionale Werkskomitee voorgelê, met betrekking tot die  Hendrina en Arnot kragstasies in Mpumalanga.

Hendrina, waarvan sommige van die oudste eenhede reeds gesluit is, is veronderstel om in 2025 te sluit, en Arnot in 2029.

Die waarnemende segspersoon vir die regering, Michael Currin, het gesê die president sal binnekort ’n vergadering van die Nasionale Energiekrisis-komitee lei.

“Ons is deeglik bewus van die probleme. Ons moet spoedig oplossings vind vir die hede en die nabye toekoms.”

Dit kom ná ’n week van voortdurende beurtkrag wat die ekonomie meer as R1 miljard per dag kos.

Met die oorgang van seisoene en kouer weer was die vraag na elekrisiteit Woensdag 33 300 MW. Dit beteken die kragverskaffer het sowat 7 000 MW nodig on hierdie ronde beurtkrag te beëindig.

In die wintermaande kan die kraglewerig met soveel as 10 000 MW te kort skiet, wat tot Fase 10 beurtkrag kan lei.

Die onbetroubaarheid van die Koeberg kernkragstasie buite Kaapstad, met albei eenhede buite werking, het bygedra tot die voortdurende Fase 6 beurtkrag.

Die land wissel tussen Fase 5 en Fase 6, en Eskom het bevestig dat dit “tot verdere kennisgewing” so gaan bly.

Twee weke gelede het die regering die nasionale ramptoestand opgeskort wat in Februarie ingestel is, en gesê genoeg steun is aan Eskom verleen om die kragtoevoer te stabiliseer.