Deur Dezzi Lennox
NWU Arende 27 (20) Ikeys Tigers 25 (9)
Daar was gisteraand twee spanne van die Ikeys op die veld teen Noordwes-Universiteit in die eindstryd van die Varsitybeker op Potchefstroom – of so het dit gelyk.
Die een Ikeys-span was briljant en het die een kans na die ander geskep om drieë te druk. Die ander een, wat moes afrond, het gelyk asof hulle verdwaal het op pad na ’n narkonvensie.
Hulle het ten minste vier kanse naby NWU se doellyn weggesmyt in ’n tweede helfte waarin hulle die tuisspan dronk gehol het met asembenewende agterlynspel. Hulle moes met ten minste 10 punte gewen het.
Maar, ai, daardie afronding.
In die eerste helfte het dit gelyk asof die Arende die Tiere gaan oorrompel, veral omdat hulle kaptein, Sampie Swiegers, die Ikeys se Luthando Woji voos geskrum het, en omdat hulle al hulle kanse aangegryp en drie drieë gedruk het.
Waar die Ikeys hulle woema ná rustyd vandaan gehaal het, weet nugter. Hoor ’n bietjie hier: Die Arende moes 92 duikslae uitvoer om hulle te stuit. Dié het hulle uitstekend gedoen, maar uiteindelik was die Ikeys se treurige afronding die Arende se grootste bondgenoot.
Puntemakers:
NWU: Drieë: Vernon Paulo (2), Tino Swanepoel (2). Doelskoppe: Zinedine Robinson (2). Strafdoel: Robinson.
Ikeys: Drieë: Reynhardt Crous (sewepuntdrie), Jac van der Walt. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (2). Strafdoele: Makhaza (3).
In die foto hierbo: Die Arende vier fees
Fotobron: Twitter