Nelson Mandelabaai span sonkrag in teen kabeldiewe

Deur Anita Dangazele

Nelson Mandelabaai in Suid-Afrika se Oos-Kaap Provinsie word al jare lank geteister deur die meedoënlose diefstal en vandalisme van elektriese kabels, wat die munisipaliteit elke jaar meer as R23 miljoen kos.

Ten spyte van alle pogings om die misdryf te beveg, vind kabeldiewe blykbaar altyd ‘n uitweg. Maar nou het die stad met ‘n briljante oplossing vorendag gekom: hoëmas sonkragstraatligte wat boewery kan kortvat.

Die metro se loodsprojek ter waarde van R3.5 miljoen behels die oprigting van sonpanele, luminaires en batterye teen ‘n hoogte van 20 meter.

Wat hierdie ligte verhef bo diewe se vuurmaakplek is die feit dat hulle geen elektriese kabels benodig nie, en die hoogte van die paal maak dit onmoontlik vir misdadigers om toegang tot die sonpanele en ander toerusting te kry.

Lance Grootboom, Nelson Mandelabaai Munisipaliteit se politieke hoof van Elektrisiteit en Energie, verduidelik: “Die stewige ontwerp van die hoë paal beteken dit kan nie soos ‘n gewone straatlig met ‘n voertuig gesny of afgetrek word nie.” Hierdie benadering voorkom nie net diefstal nie, maar verhoed ook duur onderhoudsfooie, wat die stad uiteindelik meer as R20 miljoen kan bespaar.

As ‘n loodsprojek sal die hoëmas-sonkragstraatligte aanvanklik in geteikende gebiede geïnstalleer word.

“Wanneer ons die loodsprojek se sukses gepeil het, sal ons dit in ander geaffekteerde gebiede installeer,” het Grootboom optimisties bygevoeg.

Die stad is nie ‘n uitsondering in sy stryd teen diefstal en vandalisme nie, en misdadigers het ook metaalheinings in begraafplase en spoorlyne in ander dele van die metro geteiken. Onlangs is diewe op heterdaad betrap terwyl hulle probeer het om dele van die spoorlyn naby die Chief Dawid Stuurman (voorheen Port Elizabeth) Internasionale Lughawe te verwyder.

Op die foto hierbo: Gevandaliseerde straatlig waarvan die elektriese kabels verwyder is

Fotobron: Red Alert Electronic Security EC