Eskom lei Suid-Afrikaners om die donker bos

Deur Zukile Majova

Eskom is op heterdaad betrap verlede week – hulle het versuim om bekend te maak dat die land in Fase 8-beurtkrag gedompel is. Het hulle regtig gedink Suid-Afrikaners gaan dit nie agterkom nie?

Agt tot 10 uur se verduistering in ‘n 24 uur siklus voel beslis nie soos Fase 6 beurtkrag nie. Dit is die kortverhaal van die kopspeletjie wat Eskom tans met Suid-Afrikaners speel.

Die kragvoorsiener het die hele naweek lank gesukkel om genoeg krag vir huishoudelike verbruik te verskaf, terwyl werk gestaak is by die meeste swaar gebruikers soos nywerhede, kommersiële dienste en myne.

Eskom het Sondagaand gesê hy is “in die proses om Koeberg Eenheid 2 weer veilig in diens te stel”.

“Die oorsaak van die kragafskop was weens probleme met die voerwaterpompe op die sekondêre stroombaan.”

Die onklaarraking by Koeberg, een van Eskom se mees betroubare aanlegte, beteken dat beide Eenheid 1 en 2 buite werking is – ‘n verlies van meer as 1,900 MW krag.

Energie-ontleder Chris Yelland het gesê: “Eenheid 1 by Koeberg is af vir lewensverlenging en hervulling. Daar is nou vir die oomblik geen krag van Koeberg af nie.

“Onder hierdie omstandighede is dit nogal moeilik om te aanvaar dat Eskom se Koeberg-kernkragstasie stabiele, betroubare, versendbare, voorspelbare ‘basislading’krag 24/7/365 verskaf.”

Dit alles beteken die Koeberg-kernkragstasie trek nou krag vanuit die netwerk of gebruik kragopwekkers om die kernspil af te koel en ‘n kernreaktorongeluk te vermy.

Die terugkeer van een opwekkingseenheid elk by Duvha en Medupi het Sondag nie veel van ‘n verskil gemaak nie, aangesien twee eenhede by Kriel en Koeberg se Eenheid 2 vir instandhouding afgeskakel is.

Intussen het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, politieke speletjies gespeel met die erns van die land se energiekrisis.

“Die huidige uitdagings van kragonderbrekings is omdat die ANC die verskaffing van sulke dienste uitgebrei het deur sy sosiale sekerheidsnet. Die ANC het die grootste elektrisiteitsverskaffing in die land geïmplementeer,” het hy gesê.

Sondag was daar nog geen amptelike uitspraak van die president, minister van elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa, minister van openbare ondernemings Pravin Gordhan, of Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, nie.