Deur Zukile Majova
Nie ‘n enkele verdagte is nog in hegtenis geneem sedert Intercape-busmaatskappy die afgelope drie jaar 167 sake van intimidasie, aanranding, en moord geopen het nie.
Van hierdie gevalle het 14 oor die Paasnaweek plaasgevind.
Intercape het ‘n bevel van Makhanda Hooggeregshof ontvang wat die destydse Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, verplig het om die luukse langafstandbusdiens teen boewe in die taxibedryf te beskerm.
Aanvalle op busse met passasiers aan boord het voortgeduur en het vanjaar toegeneem, hoofsaaklik in Idutywa, Butterworth, Ngcobo en ander dorpe in die Oos-Kaap.
Intercape se uitvoerende hoof Johann Ferreira het gesê hulle het geen ander keuse as om Bheki Cele, Minister van Polisie, te dagvaar nie nadat hul vloot tydens die Paastyd aanvalle en intimidasie beleef het.
“Ons het so vroeg as die Paasnaweek ‘n aantal aanvalle op Intercape-busse gehad, spesifiek in die Oos-Kaap,” het Ferreira aan die eNews-kanaal gesê.
“Ons het nie ‘n keuse nie, ons kan nie agteroor sit en ledig toekyk hoe ons busse en ons bestuurders en passasiers aand na aand aangeval word nie.”
Hy het gesê die voortdurende aanvalle wissel van maatskappybusse wat met klippe bestook of waarop koeëls afgevuur word.
Verlede maand het ‘n passasier aan Scrolla.Africa gesê hy is gelukkig om te lewe nadat ‘n Intercape-bus aangeval is terwyl hy deur Cradock in die Oos-Kaap gereis het. Dieselfde passasier eis nou vergoeding van Intercape vir sy beserings.
Ferreira het gesê taxi-verenigings in dele van die Oos-Kaap het besluit om ontslae te raak van nasionale vervoerders in hul dorpe, waar geen-ry-sones vir langafstandbusse geld.
“Wanneer ons ophou om hierdie sones te bedien, verkry taxi-operateurs hul eie busse en hulle vervoer dan die passasiers,” het hy gesê.
“Dit was ‘n goed berekende skuif; jy verdryf jou kompetisie met vrees en geweld, en dan neem jy oor en doen self die werk.”
In Oos-Kaapse dorpe waar die busse aangeval is, het die plaaslike polisie eenvoudig nie daarin kon slaag om aflaaipunte te beveilig nie.
Daar is dikwels geen veilige bushaltes nie, en passasiers loop dus ‘n groot risiko wanneer hulle op die busse reis terwyl taxi-operateurs steeds ‘n roete-oorlog met busmaatskappye voer.
Op die foto hierbo: ‘n Intercape-bus
Fotobron: Twitter