Tuinier red bejaarde van gewisse dood

Deur GroundUp

John Manda, ’n tuinier, se flinke optrede het ’n bejaarde man van ’n vlamdood gered toe hy hom uit ’n brandende motor gehaal het.

Carel van Biljon, wat die gebruik van albei sy bene ná ’n beroerte verloor het, was verlede Donderdag in die passasiersitplek vasgekeer toe sy gesinsmotor aan die brand geslaan het.

Sy vrou, Mitzi, het om hulp geroep en Manda, wat daar naby gewerk het, het ’n rookwolk gesien en hom na die toneel gesnel om Van Biljon uit die kar te help.

Carel en Mitzi het hulle 1997 Mercedes Benz omtrent agt jaar gelede gekoop en was van plan om dit “vir die res van ons lewens” te hou. Albei is in hulle tagtigs en was versot op die kar.

Omtrent ses maande gelede het Carel ’n beroerte oorleef. Daarna kon hy nie meer bestuur nie, en het in die huis ’n stapraam gebruik om oor die weg te kom.

Nadat hy maande lank vasgekluister was weens sy toestand, het die egpaar besluit om ’n lang ent te gaan ry. Mitzi het bestuur en hulle het van Somerset-Wes kuslangs met die R44 gery, tot by die klein nedersetting Rooiels, in die Overstrand.

Die kar het gaan staan en rook het agter uitgeborrel. Mitzi het gaan ondersoek instel, en vlamme by die uitlaatpyp gesien. Dis toe dat sy om hulp roep.

Manda, van Malawiese afkoms, het 200 meter weg in die tuin by een van die huise gewerk toe hy die rookwolk sien.

Hy het nader gehardloop en gesien al die vensters is toe en net die deur aan die bestuurder se kant is oop. “Ek het gesien ’n man is binne vasgekeer. Hy moes sekerlik van die rook ingeasem het. God het my krag gegee,” het Manda gesê.

“Ek het hom uitgesleep en van die rook ingekry. Iemand anders het daar aangekom en gehelp om die man verder weg te kry.”

Die brandweer het kort daarna op die toneel verskyn en die brand geblus.

Manda is nou agt jaar in die land. ’n Tragedie het hom verlede jaar getref toe sy jong dogter dood is, en Sikloon Freddy het die helfte van sy huis in Malawi, waar sy vrou woon, verwoes.

‘‘Ons almal het mekaar nodig. Of ons ryk, arm, geskool of ongeskool is, ons moet mekaar help waar ons kan.”

“Alles het baie vinnig gebeur,” het Van Biljon gesê.

’n Inwoner van Rooiels het die egpaar ingenooi, vir hulle tee gemaak en ’n iemand gekry om hulle na hulle huis in Somerset-Wes toe te neem.

Die geliefde Mercedes is afgeskryf, maar die een brokkie goeie nuus is dat Carel intussen die gebruik van sy bene gedeeltelik herwin het.

Hy kan nou sonder sy loopraam staan.

Dit is onbekend of Manda vir sy heldedaad beloon is. 

In die foto hierbo: John Manda, wat ’n bejaarde se lewe gered het.

Fotobron: GroundUp